4 maande gelede
Wayne Mckay se skip het ingekom
Legende: Wayne Mckay het al bewys hy het die chops vir stand-up-komedie. FOTO’S VERSKAF  ~ 

KOMEDIE is die beste terapie vir jou gesondheid.

Dít is die filosofie van die talentvolle komediant Wayne Mckay.

Wayne (50) het ’n lang geskiedenis in die vermaakbedryf. Hy is ’n gerekende stand-up-komediant, akteur, radio- en televisiepersoonlikheid en seremoniemeester.

Hy is in Kensington in die Kaap gebore en getoë.

“Ek het op skool die kinders en onnies vermaak en op talent shows uitgeblink. Dáái tyd het my talente begin blom,” vertel hy. “Destyds, in die 1980’s, het ek altyd Pieter Dirk Uys-produksies gekyk.

“Ek het gesien hoe hy in ’n tyd van chaos die government met humor aanvat en dáárdeur die boodskap probeer uitdra. Dit was my inspirasie. Ek het my comedy career in 2000 by die Cape Comedy Collective in Wood­stock begin.”

Ná skoolure het Wayne drama gestudeer aan die Lorenzo Amateur Dramatic Society in Mitchells Plain, en ná skool events management en bemarking by die KSUT en sielkunde aan die UWK.

Dié vermaaklikheidster het al opgetree in teaters oor die wêreld heen, onder meer die eertydse On Broadway in Kaapstad, The Drum Theatre in Australië en die Auckland Girls’ Grammar School in Nieu-Seeland.

Wayne het vroeër vanjaar stand-up op die MSC Sinfonia gedoen. Hy het die passasiers in vervoering gehad op die vaart tussen Kaapstad en Walvisbaai.

Iets wat min mense weet, is dat Wayne ook goed agter die kospotte is. Hy het al aan die BBC-kookprogram Off the Menu deelgeneem en die episode se kookkompetisie gewen.

“Ek is ook lid van die Characters Casting, het al in talle plaas­like en internasionale advertensies gespeel en was te sien in die bekende Ali Barber Show op M-Net en SABC.”

Op die oomblik skryf Wayne ’n sitkom getiteld Cape Town Mosaic vir CTV.

Reeds in 2003 was hy in die suksesvolle stand-up show Three Dicks and a Chick op die Grahamstadse kuns­tefees. In 2012 was Wayne saam met Emo Adams in die produksie Funny Kaap op die KKNK in Oudtshoorn.

Hy was ook al betrokke by die radiostasies KFM, Good Hope FM en die gewilde Heart 104.9 fm, waar hy in 2006 die stem was van Whacker, wat mense op die Afternoon Drive Show oor die foon vir poppe gevat het.

Deesdae saai hy Donderdae tussen 20:00 en 22:00 die Laidback Thursday Show op Bush Radio 89.5 FM uit.

Benewens sy talent as komediant is Wayne MC vir korporatiewe geleenthede, troues, konferensies en live shows. Hy bestuur ook sy eie events company, Wayne Mckay Events Management.

Aan jong komediante sê hy: “Komedie is nie ’n vinnige proses nie. Jy moet passievol wees en hard werk. Moenie ander copy nie. Doen jou eie ding.”

  • Kapenaars kan daarna uitsien om dié komedie-legende in lewende lywe te sien optree in sy show Fresh off the Boat, in die Mesopotamia-restaurant op die hoek van Burg- en Kortmarkstraat, Kaapstad. Daar is shows op 29 en 30 Junie.

Dit is ’n baie intieme vertoning wat gaan handel oor allerhande issues, soos die waterkrisis, die Patricia de Lille-sage en nog wat.

Kaartjies is teen R120 beskikbaar by Wayne Mckay Events Management. Bel 082 724 7968 of stuur ’n e-pos na waynemckay1@gmail.com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters