9 maande gelede
Vuvu doen nou haar eie ding
GEWILD: Vuvu Kumalo­­ se debuut-album is in 2019 op die rakke.FOTO VERSKAF  ~ 

SY STAAN bekend as “The Queen of Old-school Disco” en sy kruip vinnig in almal se harte.

En as Vuvu Kumalo (30) die verhoog vat, kan konsertgangers hulle maar regmaak vir ’n jol wat skrik vir niks.

Die loopbaan van die R&B- en soul-sangeres het begin toe sy as sesjarige ’n karaoke-kompetisie gewen het.

Haar oom, die bekende langarm-koning Bobby Hendricks, het destyds die nagklub Zero Hour Zone in Eerste­rivier besit.

Hy het haar daardie aand ingeskryf vir die kompetisie in sy nagklub. Sy het dit met Whitney Houston se “Where do Broken Hearts­ Go” gewen. Van toe af het sy by haar skool se konserte en talent shows gesing.

In 2006 het sy haar talente gaan afshow in hotelle in Spanje en die Kanariese Eilande, waar sy Aretha Franklin en Tina Turner tributes gedoen het. Op 19 het sy met die cabaret miming group Three D by Valerie’s Jazz Cafe in Kuilsrivier begin optree.

Dit is dáár waar die bekende events-bestuurder Godfrey Vollenhoven van Marmalade Productions haar raakgesien het.

Hy het in 2010 besluit sy moet een van die stigterslede van die gewilde Divas shows wees.

Voorreg

Kumalo verduidelik: “Dit was my eerste groot break toe ek met ál daardie bekende name, soos Salome, Karin Kortjé, Claire­ Phillips en Vicky Samp­son, by The Boardwalk in Port Elizabeth opgetree het. Ek was ook agterna betrokke by die Divas, Divos en Duets shows.

“Vir my was dit ’n groot voorreg om met die Amerikaanse R&B-sangeres Sybil die stage te deel op die Divas-konsert laas jaar by GrandWest.

“Ek was net suppose om die een show te doen. Maar Sybil was so beïndruk met my per­form­ance dat sy toe besluit het ek moet saam met haar toer vir die res van haar shows. Dit was na Bloemfontein, Port Elizabeth, Johannesburg en Durban.

“Ons is nou groot vriende en ek het al twee keer vir haar gaan kuier in Atlanta, Georgia.”

Kumalo het al vier cover promotional CD’s uitgereik en is besig met haar debuut-album, waarvan sy ses songs self geskryf het. Kumalo is ook ’n kranige klavierspeler.

Oorweldig

“Daar gaan 12 songs wees en ek beplan om die album middel volgende jaar uit te reik. Ek kies nog tussen twee name vir die album, naamlik Show me Love of Beat of my Heart.”

Sy sê wat uitstaan in haar loopbaan, was toe sy laas jaar op die Jazz on the Rocks-fees in Tietiesbaai op die verhoog gestap en die meer as 5 000 konsertgangers haar naam uitgeroep het. Sy was oorweldig.

Sy hou Saterdag 24 November haar eerste independent show genaamd We are Vuvu Kumalo in Parow se Hugo Lambrechts-musieksentrum. Die konsert begin 19:00.

Kaartjies is beskikbaar by Helena Lindhorst by 081 722 5692 of besoek Vuvu Kumalo se Facebookblad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters