5 maande gelede
Voorwaar veelsydig, – dít is Keenin-Chad
bedrywig: Keenin-Chad von Wielligh woeker met sy talente.foto’s verskaf  ~ 

‘VOORDAT kinders praat, sing hulle. Voordat hulle skryf, teken hulle. Sodra hulle staan, dans hulle. Kuns is fundamenteel tot menslike uitdrukking.”

So haal die jong artist Keenin-Chad von Wielligh die bekende aktrise Phylicia Rashad aan.

Dis byna asof Keenin-Chad (25) sy vele talente opnoem, want dié talentvolle jong man sing, dans en act ’n hond uit ’n bos uit.

Keenin-Chad is gebore in die Paarl en het daar grootgeword. Hy is die laatlammetjie van drie kinders.

Sy ma, Mackie, het hulle van kleins af geleer om net hulle bes te gee en om hulle drome te volg.

Vandag is hy as sanger én akteur betrokke by vele produksies.

Van 2016 tot vanjaar het hy met sy talente in hotelle, op passasiersbote en holiday resorts in lande soos Swede en Spanje gaan afshow.

In Spanje het hy plekke soos Menorca, Mallorca en Tenerife (die grootste van Spanje se Kanarie Eilande) kafgedraf.

Keenin-Chad sê: “My droom was om betrokke te raak by drama, want ek wou nog altyd ’n actor word.

“Toe ek 10 was, was ek in my eerste professionele produksie as die hoofkarakter in die play Die Fluitspeler van Hamelin.

“Kort daarna het ek op skool aan eisteddfods begin deelneem.

“Ek het aangesluit by die Little Rascals-dansgroep in die Paarl en ek het dans selfs as ’n vak op hoërskool geneem.”

Keenin-Chad het aan ’n klomp kompetisies deelgeneem: In 2009 was hy derde in die Paarl Pop Idols-kompetisie, onder die top-10 van die Barnyard Teater se sangkompetisie en tweede in die Global Talent Search; in 2010 het hy die Boland’s Got Talent-sangkompetisie gewen.

In 2010 het Keenin-Chad musiek studeer aan die Frank Pietersen Musieksentrum en later aan die Mimi Haasbroek Sangskool, albei in die Paarl.

Hy het hom toe daarna by ’n groep, die Hugenote Sangers, aangesluit. Die groep het deur die Wes- Oos- en Noord-Kaap getoer.

In 2011 het Keenin-Chad in die openingsprogram van die teaterproduksie Spacekriek en Dakskroef gesing. Dit was ’n produksie van Binnelanders se Brad­ley Olivier.

Hy’t ook verskyn in die gemeenskapsproduksie Smiles and Trials, wat handel oor die sosio-ekonomiese probleme in ons gemeenskappe.

Hy en Crystal-Donna Roberts het kort daarna met die SA Schools Got Talent-span in die Wynland Distrik getoer.

Keenin-Chad sê: “Ek is ook ’n omroeper by die gemeenskapsradiostasie Franschhoek FM 87.6.”

In 2012 het hy in sy eerste movie, Draaikolk, gespeel as Jimbo, ’n tiener wat blootgestel word aan alkohol en dwelms.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters