2 maande gelede
Vlakte-fliek roer menige
AAN DIE Tjoef: Jarrid Geduld vertolk die rol van Abie in die fliek Ellen, The Ellen Pakkies Story.Foto’s: Lindsay Appolis  ~ 

JARRID Geduld was in trane toe hy dié week die fliek Ellen – The Ellen Pakkies Story gekyk het.

Die fliek, wat reeds oorsee opslae gemaak het, was die openingsfliek op kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai.

Die briljante 28-jarige akteur vertolk die rol van Ellen Pakkies se seun Abie.

Al wat ek dwarsdeur die fliek gehoor het, is die gedempte snikke van die feesgangers.

Asems is skerp opgetrek gedurende die scene­ van hoe Ellen haar seun met tou verwurg totdat die skuim uit sy mond borrel.

Jarrid bring soveel rou egtheid na die rol van Abie.

Dit het nie net vir hom nie, maar ook die res van die feesgangers emo­sioneel gelaat.

Jarrid het vertel dat hy, en baie ander jong mense oppie Vlakte, dieselfde is.

“Abie is ook net ’n jong man wat groot gedroom het.

“Hy het daarvan gehou om te rap, te dans en die gek te skeer.

“Ongelukkig het hy dwelms begin gebruik oor hy ’n stryd met persoonlike identiteit gehad het.

“Ek is nes Abie omdat ek ook playful is en daarvan hou om mense te laat lag.

“En nes hy het ek ook drome van ’n beter lewe.”

Jarrid het vertel hierdie fliek is vir hom spesiaal, want dis ’n ware verhaal.

“Dit is nie iets wat jy kan opmaak nie. Dit is ’n ma en ’n seun se verhaal. ’n Regte storie.”

Jarrid het gesê die belangrikste les wat hy uit die fliek vat, is dat ons altyd gaaf met mekaar moet wees.

“Ons almal kry een of ander tyd seer. As ons tyd maak om na mekaar te luister, mekaar te verstaan en saam te staan, eerder as om mekaar aan te vat, sal dinge beter word.”

Die akteur het gesê hierdie storie is ’n storie van die Vlakte. Dit is ’n universele storie wat nie net met die Pakkies-familie gebeur het nie.

“Daar is steeds so baie families wat deur dwelms vernietig word.”

  • Die fliek begin op 7 September in Suid-Afrika draai.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters