Verlede maand
Vind julle weg na ‘Trackers’
Vol aksie: Trackers begin vandag 20:00 op die kassie.  ~ Foto's Verskaf

JULLE beter genoeg popcorn koop, want die volgende vyf weke­ gaan julle beslis voor die kassie vasgenael sit.

Ek het laas week die geleentheid gekry om na die eerste episode van Trackers te kyk wat vandag 20:00 op M-Net begin... En mens, was ek vir jou beïndruk!

Die reeks gaan vir die volgende vyf weke die plek van M-Net se Hollywood blockbuster-gleuf oorneem.

Ek sê jou nou, die reeks is só goed, jy gaan nie eens daai agtuur-movie mis nie.

Die reeks van vyf episodes is ’n verwerking gebaseer op die boek Trackers van Suid-Afrika se suksesvolste misdaadskrywer, Deon Meyer.

In die boek word verskeie storielyne inmekaar geweef. Dit fokus op swartrenoster-stropery, die CIA, georganiseerde misdaad, diamantsmokkelary, staatsveiligheid en terroriste wat dreig om Kaapstad aan te val.

Die reeks van vyf episodes is in en rondom Kaapstad geskiet. Daar is ’n skitterende rolverdeling, wat internasionale en local talent insluit.

Van Mzansi se gunsteling-sterre hou hulle lyf speurder in die reeks.

Die een is Sandi Schultz, wat te sien was in die riller-reeks Spreeus.

Dan is daar die aantreklike Thapelo Mokoena van Broken Vows.

James Gracie vertolk die rol van die misterieuse Lemmer, Rolanda Marais speel Milla en Sisanda Henna is die skurk Nkunzi.

Sandi vertolk die rol van die hoof van die Presidensiële Intelligensieburo (PBI), Janine Mentz, wat om haar agentskap se oorlewing veg.

Sy ontdek terselfdertyd daar’s ’n Islamistiese terreurgroep wat ’n groot aanval op Kaapstad beplan.

Thapelo vertolk die rol van Quinn, Janine se lojale en hardkoppige pel en kollega.

Quinn is ’n baie intelligente agent en vasbeslote om die sukkelende agentskap te red.

Hy wil ook die grootste terreuraanval in Suid-Afrika se geskiedenis probeer voorkom.

Die geliefde Kaapse akteur Brendon Daniels, wat te sien is in Four Corners en Vallei van die Sluiers, is ook te sien in dié reeks.

Ná die swierige première van Trackers by Montecasino in Johannesburg, het ek saam met Brendon gesels oor sy rol as die Moslem-operator Osman.

“Hy is ’n sakeman. Hy bly in die Bo-Kaap. Hy is getroud en het ’n dogtertjie. Hy ervaar uitdagings en het sterk geloofsoortuigings waarmee ek nie noodwendig saamstem nie en dit maak van hom ’n baie komplekse karakter.”

Daniels sê daar is definitief geen koste gespaar met die verfilming van Trackers nie.

“Met Suid-Afrikaanse produksies het ons gewoonlik nie die groot begrotings wat internasionale geld kan bring nie.

“So, dan moet ons verskriklik vinnig skiet. Maar met dié reeks was dit anders. Ons het die geleentheid gehad om om te gaan met die karakters sonder om te voel dat jy gejaag is.”

Ek gee jou vyf redes hoekom jy dié reeks nie moet misloop nie:

  • Dit is verwerk uit ’n boek van een van die beste misdaadskrywers ter wêreld.
  • Van Mzansi se talentvolste akteurs speel daarin.
  • Dis uit en uit deur Suid-Afrikaners geskep. En local bly mos maar lekker!
  • Dit wys ons land se mooiste landskappe en geboue – van Tafelberg tot by die pragtige, helderkleurige huisies in die Bo-Kaap.
  • Dit voed ons op oor euwels in ons land soos renosterstropery, geweld en smokkelary.

Vir dié wat nie vanaand na die reeks kan kyk nie – dis ook op DStv se Catch Up én Showmax!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters