15 dae gelede
Verlore dogter ná jare
oorspronklik: Claire Phillips is druk besig in die ateljee.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

CLAIRE Phillips is terug – en hóé!

Ná ’n selfopgelegde ballingskap uit die opname-ateljee gaan die Kaapse R&B/soul-sangeres binnekort haar eerste kortspeler sedert 2012, “I Wanna Love You”, uitreik.

Claire en haar jare lange vervaardiger, Patrick “Caramel” Hickie, werk tans hard in die ateljee om die res van die album op te neem. Sy beplan om dit teen Maart uit te reik.

Dit sal die derde album wees van dié uiters talentvolle musikant wat in Belhar op die Kaapse Vlakte gebore is en steeds daar woon. Sy het Say My Namein 2007 uitgereik. In 2012 het By Request die lig gesien. Say My Name het ’n South African Music Award (Sama) gewen en By Request is vir ’n Sama benoem.

Claire is ’n selfopgeleide musikant uit ’n familie wat oorloop van musiektalent. Nes Claire, bespeel haar pa, Martin, talle instrumente. Hy het twee groepe, Family Affair en Rainbow Connection, gehad.

Claire het met die intrapslag die aandag van haar onderwysers by die Laerskool Accordionstraat in Belhar getrek met haar sangstem toe sy saam met ’n opname van Karyn White se “Superwoman” gesing het.

Ná matriek het sy ’n sakekursus voltooi en toe musiek studeer het by Camillo Lombard se destydse Prompt Music Academy. Lombard was so beïndruk met haar sang dat hy haar saam met Loading Zone laat optree het.

Maar moenie covers op Claire se nuwe album verwag nie. Sy verpes dit om ander mense se liedjies te sing.

“My pa het my altyd aangemoedig om my eie stem te vind en dis wat ek gedoen het.

“Ek het Loading Zone gelos, want ek kon nie myself ander mense se musiek sien sing terwyl ek soveel musiek in my gehad het nie.”

Claire glo daaraan om gereelde blaaskanse van die musiekbedryf te vat. Dit gee haar kans om weer te fokus en energie op te bou.

“Ek het nou ’n goeie ruskans gehad en ek kan myself weer regkry vir die uitreiking van die enkelsnit.”

Die veelsydige 36-jarige sê: “I Wanna Love You” is ’n liefdeslied, want sy is ’n groot crooner.

“Ek het ál die musiek self geskryf en die verwerkings gedoen. Nie baie musikante doen dit nie.”

Sy het ook onlangs haar debuut as aktrise gemaak in die trefferfliek Ellen.

Sy wil hard werk aan oorspronklike musiek, met Suid-Afrika en Nigerië se beste musikante werk, reis en haar storie aan soveel jongmense moontlik vertel en hulle inspireer.

Volg Claire op Twitter by @claire952, @clairephillips952 op Instagram en @clairephillipssa op Facebook. Haar musiek is ook op Soundcloud te kry.

  • Vir besprekings, kontak ashleigh@brukman.co.za of bel 084 448 9293.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters