7 maande gelede
Van copy tot kaptein
dfbFoto:  ~ 

VIR dié jong danseres gaan dit glad nie oor roem of rykdom nie.

Nee, vir haar gaan dit meer oor haar passie vir dans en om jong mense te help om in die regte rigting te gaan.

Carlene Slayters (23) van Ravens­mead is die stigter van Tenacity Movement.

Dié dansgroep wil jong mense van die strate af hou en hulle motiveer om nie dwelms te gebruik of bendelede te word nie.

Carlene ken haar moves en was al op die televisie in ’n advertensie vir adidas.

“Ek het op laerskool begin dans, op die ouderdom van 13,” vertel sy. “My pa, Cedric Slayters, was mal oor Michael Jackson, maar hy kon nie self dans nie.

“Ek het altyd saam met hom na Michael Jackson-video’s gekyk.

“Michael se dance moves en perfor­mances het my getrigger om te begin dans.

“Ek het ook na musiek­video’s van Beyoncé en Ciara gekyk. Dan het ek hulle moves probeer.

“Die onderwysers het my gereeld gevra om op skoolbyeenkomste te dans.

“In die Hoërskool Elsiesrivier was ek ’n lid van die skool se dansgroep. Ek het altyd opgetree op karnavalle, konserte en talentshows. Van gr. 8 tot gr. 12 het ek deelgeneem aan die High School Jam in die Grand Arena (by die GrandWest Casino).

“Ek het Tenacity Movement toe in 2015 in my jaart begin. Dit beteken ‘not giving up’.

Bekostig

“My buurvrou het my voorgestel aan iemand in beheer van die Ravensmead Civic.

“Die klein saaltjie is for free gegee om daar met my span te oefen.

“My studente kom uit minderbevoorregte huise in die Elsiesrivier- en Ravensmead-omgewing. Ek vra hulle niks vir danslesse nie. Ek weet hoe dit voel om nie geld te hê om ’n dansakademie te join nie.

“Ek wil daardie platform skep vir dié wat dit nie kan bekostig nie.”

Carlene fokus op hip-hop. Dit sluit breaking, popping, lock­ing, housing en dancehall in.

Dié moves dra sy aan die studente oor. Die training word Vrydae van 15:00 tot 18:00 gegee.

Aangesien Carlene nie ’n vaste werk het nie, gaan sy gereeld na oudisies vir TV-advertensies of films.

Sy dans tans vir kunstenaars wat op die SABC3 breakfast show Expresso geinterview word. Sy studeer ook vir ’n jaar dans by The Rainbow Academy in Adderley­straat in Kaapstad om haar kennis in haar gemeenskap terug te ploeg.

Carlene se akademie is as ’n NPO geregistreer. Voornemende borge kan haar by 072 014 0599 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters