4 maande gelede
Terug in haar liewe geboortestad
wil reconnect: Melanie Scholtz is bly sy kan weer in die Kaap optree. Foto: FACEBOOK  ~ 

DIS ’n bitter trip hierdie, maar ook ’n soet een, want ek was vyf jaar laas in hierdie stad waar my hart is: Kaapstad.

Só vertel die liedjieskrywer, regisseur en sangeres Melanie Scholtz opgewonde toe sy Son op Sondag onlangs besoek.

Dié boorling van Athlone het in Vishoek grootgeword, maar woon deesdae in New York.

Sy verklap dit doen haar goed om weer in Suid-Afrika te wees, want die Big Apple is ’n bedrywige stad.

Melanie vertel sy woon al langer as ’n jaar in New York, maar verlang steeds na die Moederstad. Sy probeer om een keer per jaar terug te keer na haar geboorteland en hier op te tree.

“Dis vir my so lekker om met ou vriende te reconnect en my batteries te herlaai.”

En is haar mense nog hier?

“My ouers woon in Londen en my suster is ook oorsee,” vertel Melanie. “Dit is maar moeilik, maar deur die sosiale media kan ons kontak behou.”

Die songstress sê haar “oupa is nou 94 jaar oud, maar het ’n verstand soos dié van ’n olifant. Hy kan alles nog goed onthou.”

Verder is dié talentvolle skoonheid, wat al vyf albums agter haar naam het, opgewonde, want sy’t pas ’n record deal met ’n plate­maatskappy in Amerika ge­teken.

Haar nuwe album sal na verwagting later vanjaar die lig sien.

Diegene wat gelukkig genoeg was om ’n sitplekkie te hê by gistermiddag se show Kaapse Tango by die Suidoosterfees, sou hulle kon verlustig in musiek wat uit die hart kom en tot die siel spreek.

Wat Melanie veral waardeer van optredes in Kaapstad, is die kans om met haar getroue ondersteuners te connect.

Oor haar nuwe album sê sy: “Die musiek gaan oor die storie van my lewe. Ek werk weer saam met Mark Fransman, ’n liedjie­skrywer, musikant, award-winning instru­ment­alist en regisseur. Ons werk al van my UCT-dae af saam toe ek vir ’n performance diploma in opera gestudeer het. Ek kan nie glo dis al langer as 20 jaar nie.”

Melanie sê sy voel dikwels nog oorweldig, want sy het nooit gedink musiek sou haar so ver bring nie.

Danksy haar musiek is sy reeds met twee gesogte eerbewyse bekroon: In 2010 is sy as Standard Bank se Young Artist vir jazz aangewys en in 2012 het sy met drie pryse weggestap vir haar optrede by die Jazz Revelations-kompetisie in Nice, Frankryk.

Drome

Melanie vertel toe sy onlangs in ’n club in New York optree, het ’n Londense musiekregisseur haar gehoor sing. “Hy het een van my albums gekoop.

“Ons het spesiale stemme in Suid-Afrika en op my nuwe album wil ek graag dit uitbring waarvoor ons land bekend is.”

Haar raad aan jong perform­ers? “Gaan vir jou drome. As dit vir jou uitgesit is, sal dit gebeur. As God deure oopmaak, kan niemand dit sluit nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters