2 maande gelede
Talentvolle twee snoer hul kragte saam
die manne: Shaun Gabriël Smith (links) en King Smasher (Shaundeon Afrika).foto’s verskaf  ~ 

TWEE talentvolle latte het vanjaar weer hulle kragte saamgesnoer vir die verhoogproduksie Simpler Days.

Die sanger King Smasher en akteur Shaun Gabriël Smith act in dié produksie – in Afrikaans, Engels en Xhosa – wat op 26 en 27 Julie in die Nassau-teater by die Hoërskool Groote Schuur in Nuweland op die planke is.

Die play gaan oor die lewe van twee laities van Mitchells Plain wat saam opgegroei het. Later slaan hulle lewens egter verskillende rigtings in.

Die een word ’n suksesvolle prokureur en die ander eindig in ’n mental institute op. Dit gaan oor hoe hulle terug verlang na hulle eenvoudige opgroeijare.

Die regisseur is Yanga Mkonto.

Die play is laas jaar ook by die Baxter-teater opgevoer en benoem vir best supporting actor, best cast en best production.

Maar meer oor die akteurs …

King Smasher (24), regte naam Shaundeon Afrika, is van Mitchells Plain. Hy het reeds van die ouderdom van ag sy rapping skills begin polish. Hy was lid van NBJ, ’n R&B- en gospel rap-groep.

“Ek het ’n skill ontwikkel vir toneelspeel by Cedar High in Mitchells Plain,” vertel hy.

“Ek het eers musiek studeer, maar het nie so lekker met die theory-deel gecope nie. Ek wou toe iets anders doen en dis tóé dat ek na drama oorskakel.

“Ná skool het ek vir twee jaar by Northlink se Tygerberg-kampus in Plattekloof drama gaan swot. Daar het ek my skills in toneelspeel ontwikkel.

“Ná die twee jaar het ek in ’n paar plays gespeel vir die organisasie Hooked on Books.

“Ons was drie akteurs wat stories uit voorgeskrewe boeke by skole gaan opvoer het.”

Benewens drama en sing, verskyn dié talentvolle jong man ook in ’n episode van die rillerreeks Spreeus. Hy speel die rol van die karakter Brendon, wat ’n gevaar­like gangster is. Dié episode is Dinsdag 28 Mei op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Hy sing deesdae hip-hop, R&B en reggae.

Laas jaar het hy ’n hip-hop EP, Legendary, uitgereik.

Shaun Gabriël Smith (27) is ook van Mitchells Plain en het by Wynberg High School drama studeer.

Hy speel reeds toneel vanaf die ouderdom van ses jaar. Hy het al saam met die aktrise Nazli George gewerk en was al in een van haar produksies, Divas, by die KKNK en die Aardklopfees.

Op ag was hy in die TV-advertensie vir Yum Yum peanut butter.

Hy het ook gesig gewys in Nintendo se advertensie vir sy video game console.

Hy het twee jaar drama geswot by die New Africa Theatre Academy in Athlone.

Hy het al in produksies soos Oliver Twist en Tinkerbell gespeel.

Met die Olimpiese Spele van 2012 het hy saam met Torch Bearer-produksies na Wallis gereis vir Land van Skedels.

  • Kaartjies vir Simpler Days kos R120 en is via Webtickets en ook by alle Pick n Pay-supermarkte beskikbaar.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters