Verlede maand
Talentvolle ou gryp eindelik kanse aan
Lemuel Boesak.  ~ Salmon Smith

HY HET net betyds besef verkeerde besluite gaan hom nêrens in die lewe bring nie.

Vandag is Lemuel Boesak (27) ’n skrywer, sanger en akteur.

Boesak is gebore in die klein dorpie Slangrivier net buite Heidelberg in die Kaap.

Hy was ’n school drop-out in gr. 11 omdat hy eerder saam met sy pelle wou drink.

“Slangrivier is maar ’n klein dorpie en die enigste tydverdryf vir die jong mense hier is maar drink en kuier,” vertel hy.

“Jy vergeet dan wat jou goal in die lewe is of tot waartoe jy in staat is. Ek is eintlik spyt oor die foute wat ek gemaak het en besef hoe ver ek al in die lewe kon gevorder het.

“Ek was nog jonk. My ouers, Sara en Petrus Boesak, het vir my geleenthede probeer gee, maar as jy jonk en hardegat is, dan luister jy mos nie altyd na goeie advies nie – totdat jy jou kop stamp.”

Selfvertroue

Boesak was al op laerskool – Slangrivier Primêr – baie talentvol.

Hy was betrokke by drama en is deur die bekende akteurs Theodore Jantjies en Maurice Page gementor. Hulle skool se dramagroep was in wyle Goliath Davids se skoledrama-projek.

Hy het die hoofrolle vertolk in twee dramastukke, genaamd God, Liefde en Drugs en Kaapse Suckers­.

“Ek was ’n baie skaam kind en om betrokke te kon wees by drama, het my meer selfvertroue gegee en my liefde vir drama het gegroei.

“Omdat daar nie baie geleent­hede is op die platteland nie, is dit maar enige jong mens se droom is om stad toe te trek.

“In die middel van 2018 het ek Kaapstad toe getrek omdat hier baie geleenthede is.

“Ek bly tans in Eersterivier.

“Ek het ’n droom gehad om eendag te kon sing. Ek het toe met die komediant Ashley Pienaar in verbinding getree omdat ek gelees het oor sy werk met up-and-coming artists.”

Met Pienaar se hulp is Boesakvandag ’n R&B artist en hy is tans besig met sy eerste EP.

In een van die songs, “A Man’s Apology”, vra hy namens mans om verskoning vir die mishandeling van vroue en kinders. Nog ’n song, “Faded”, gaan oor sy persoonlike lewe en oor die verkeerde besluite wat hy gemaak het.

Buiten sy musiekloopbaan is hy ook lid van ’n casting agency. Hy is ’n featured ekstra in ’n BBC- TV-reeks, The Watch.

Die reeks word tans hier in die Kaap verfilm en is gegrond op ’n boek van Terry Pratchett.

Volgens Boesak word die reeks in Maart uitgereik.

Hy en ’n vriend het ook pas ’n boek, To be shunned, klaar geskryf en dit gaan binnekort gepubliseer word.

“Dit gaan oor iemand wat groot droom, maar omdat almal deure in sy gesig toemaak, kan hy nie sy drome bewaarheid nie.”

Die talentvolle Boesak jaag nou sy drome na en is bly oor die regte besluite wat hy in die lewe gemaak het. Hy hoop jeugdiges kan uit sy mistakes leer en hulle mindset jeens die lewe verander.

Kontak hom gerus deur Ashley Pienaar Productions by 081 771 8609.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters