4 maande gelede
Sy beats klop al van skooltyd af
VEELSYDIG: Ranny K droom al van kleins af daarvan om ’n rapper te word.  ~ Foto Verskaf

HY WAS nog ’n klein laitie toe hy en sy vriendjies ge-freestyle het deur beats op ’n vullisdrom te kap.

Van tóé af is daar geen keer aan die rymkletser Ranny Kay (25) nie.

Sy passie vir musiek het deur die jare gegroei en vandag kan hy hom ook daarop roem dat hy ’n liedjieskrywer en musiekvervaardiger is met ’n paar singles en ’n musiekvideo agter sy naam.

Kay is as Randall Kock gebore in die Bolandse dorpie Gouda, waar hy steeds woon. Dit was van kleins af sy droom om ’n musikant te word.

“Op Bakerville Primêr in Gouda het ek en my vriende tydens pouses met verskillende beats begin eksperimenteer,” vertel hy.

“Ek was toe nog in gr. 6. Ons het sommer ons eie beats gemaak deur op die vullisdromme en die skool se snoepwinkeltjie se deur te kap. Verder het ons musiekinstrumente met ons monde nagemaak.

“Later het ek begin liedjies skryf en in 2008 het ek my eerste single, ‘I Go Down’, uitgereik. Dié liedjie praat van as jy val, moet jy weer opstaan.

“In 2015 skryf ek my tweede single, ‘Koninklike Goud’, wat ek aan my meisie opgedra het. Dié liedjie was onder die topvyf op Radio KC se local hip hop show Streetmix.”

Kay het al die verhoog gedeel met die bekende groep The Rockets en hy tree elke jaar op by die Liggiefees in Gouda­, asook die Bergwaterfees in Saron.

Hy het al gewerk aan musiekprojekte saam met die bekende Charlton­ “Breimasjien” Davids van Worcester en DJ Gakkie van Ocean View.

Tans is Kay ook lid van die Kaap se grootste hip-hop movement, Broederbond, en hy besit sy eie musiekstudio genaamd Blaupunkt Productions.

Laas jaar het hy sy eerste volledige album, Eerste Project, uitgereik.

Daarop is ag songs – hip-hop en R&B – en hy werk reeds weer aan sy volgende album.

“Ek het nou onlangs my eerste musiekvideo, ‘Donderstorm’, in Gouda en Saron geskiet. Dit gaan oor die poverty en crime waarin ons gemeenskappe vasgevang is.

Reeks

“Dit is ’n baie inspirerende musiekvideo, want in die video vat ons die negatiewe en verander dit in iets positiefs. Dit is binnekort beskikbaar op YouTube.”

Kay is ook lid van ’n casting agency en was al ’n featured ekstra in die Amerikaanse reeks Vagrant Queen.

Sy musiek is op Rymklets Republiek en Slikour on Life beskikbaar. Kontak hom by 062 134 4915.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters