2 maande gelede
Sterstatus inevitable vir talented, jong Tez
WENSPAN: G3d8te en Tez. Foto: SALMON SMITH  ~ 

TOE die rapper G3d8te (uitgespreek “Gedagte”) dié bloedjong sangertjie aan my voorstel, toe weet ek hier is iemand met hope potensiaal. Hy is vol selfvertroue en weet waarnatoe sy kop staan – sukses.

Die 20-jarige Tez (Zane Arantez Sauls) is tans onder G3d8te se vaardige vlerk.

Tez sing al van ’n bloedjong ouderdom af. Sy ma, Denise Sauls, het daardie tyd in die kerkkoor gesing en het as ’n grap haar eenjarige seun gevra om ’n noot te gee.

Hy het dit so perfek gedoen, die familie het hom “Die Noot” gedoop. Later het hy die laaste drie letters van sy middelnaam as verhoognaam begin gebruik. En dít was die begin van Tez se singery.

Vandag bekoor Tez gehore. Hy sing onder meer Gekgaap, R&B en bruinman-funk.

Hy vertel: “Ek was ses jaar oud toe ek gevra is om ‘Holy Night’ in ons Sondagskoolkonsert te sing. Die gehoor was mal daaroor.

“Toe trek ons familie van Ravensmead na Parow. Daar het ek in die Voorbereidingskool Parow se koor begin sing. Om meer selfvertroue te kry, het ek elke jaar aan die eisteddfod deelgeneem. Ek het gedigte voorgedra en gesing, en ’n paar keer in dié kategorieë gewen. Op eisteddfods kan leerders hul talente kweek.”

Kort daarna het Tez ’n oudisie vir die Drakensberg-seunskoor geslaag, maar kon weens ’n gebrek aan geld nie gaan nie.

Op hoërskool het Tez musiek geneem. Hy kan dus lirieke en bladmusiek skryf. Hy is ook gekies vir die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, wat in 2016 deel was van die Taliep Petersen tribute show. Daarna het die musiekregisseur Camillo Lombard hom gevra om te help met die editing van die program vir die televisie-uitsending.

G3d8gte vertel: “Ek het Tez ontmoet by ’n Jeugdag event by die I-Can Centre in Elsiesrivier. Ek het gehou van sy performance.

“Ek het hom Knysna toe gevat vir die benefit concert vir laas jaar se brandslagoffers. Ondanks die druk was hy baie gemaklik. Hy het John Legend se song ‘All of Me’ gesing en die skare mal gehad. Daarna het ons ’n baie goeie relationship opgebou.”

Tez en G3d8te het saamgewerk aan Hier’s Ons As Jy Moeg Is. Dié album het 34 songs van verskillende genres op.

“Ek Wil Jou Myne Maak” en “Hierso om Myself te Geniet” is van die hits. Laasgenoemde se video is al meer as 200 000 keer op Facebook gekyk en 40 000 keer gedownload. Dis op Audiomack beskikbaar.

Die CD word op 22 Februarie – op Tez se verjaardag – gelaunch.

“Tez is ’n triple treat. Hy kan perform, is ’n sterk solo-artist en hy kan ’n stage vir homself vat,” spog G3d8te.

  • Belangstellendes kan Tez deur G3d8te by 074 991 0819 kontak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters