3 maande gelede
Skud nou jou biscuit op Early B se 1ste album
Vannie dal af: Early B se eerste album sal binnekort landwyd op die rakke wees.Foto verskaf  ~ 

LEKKE’ djy, lekke’ djy!

Die bekroonde rymkletser Early B (29) se debuut­album, Aangename Kennis, sal op 10 Augustus op die rakke wees.

Die rapper het al baie harte gewen met sy vlymskerp humor en sielvolle sosiale kommentaar.

Early B, oftewel Earl Swartz, is een van twee kinders en beskryf homself as ’n eks­trovert. Hy het in ’n huis grootgeword waar sy pa gereeld vir hulle op sy mondfluitjie deuntjies gespeel het. Hy het ook in sy kerk baie blootstelling aan musiek gekry.

Hy was sewe jaar lid van die groep Earl & Agemi, waarna hy sy loopbaan as solokunstenaar begin het. Hy het onlangs ’n platekontrak met Universal Music geteken.

Die rapper vertel passievol: “Afrikaanse hip-hop was nog altyd my gunsteling-musiekstyl omdat dit ’n mens kans gee om rou uiting aan jou gevoelens te gee.”

Hy het die afgelope nege jaar ’n gereelde gesig geword by van die land se grootste feeste en konserte, soos die KKNK.

Hy is veral bekend vir sy treffer, “Cerebellum”, wat hom ’n Ghoema-prys besorg het vir Beste Hip-hop-liedjie van 2017.

“Ek het snitte gekies wat verskillende musiekstyle met rymklets kombineer, ’n sterk boodskap dra, mense aanspoor om pret te hê en stories vertel wat soos ’n kortfilm in die geestesoog moet afspeel,” verklap die musikant.

Die rapper het ’n diploma in film- en televisievervaardiging wat baie nuttig te pas kom vir hierdie doeleindes en hom ook ’n rol besorg het in die plaaslik vervaardigde televisiereeks Hotel Songololo.

Waar kom sy idees vandaan?

“My pa is ’n goeie storieverteller. Hy het die beste aandstories vertel toe ons jonger was. Ek het besef ek kan dit ook doen en dat ek so baie het om te sê. Dis wat my vorentoe dryf.”

Early B beskryf sy musiekstyl as energiek en catchy. Hy het nog baie planne vir die toekoms, insluitende ’n landwye toer en nog baie musiekvideo’s.

“Ek is dinamies en kleurvol in my styl omdat ek nie net hou by een ding nie. Tog, in amper elke liedjie sê ek ‘vannie dal af, meisie’. Dis my tag line. Maar dis meer as net dit. Ek sê dit sodat aanhangers moet weet ek is van Bloemendal.”

Die rymkletser wat verslaaf is aan tweeminuut-noedels, motiveer jong mense en op­komende musikante om altyd getrou aan hulself te wees.

“Wees net jouself. Maak nie saak wie of wat jy is nie. Bly jouself. Aan die begin was dit vir mense weird toe ek unapologetically myself was, maar ek het getrou aan myself gebly.”

Die album sal van 10 Augustus op alle aanlyn platforms, soos iTunes, Spotify en Google Play Music, beskikbaar wees en ’n week later kan jy dit gaan koop by Musica-winkels landwyd.

  • Ons gee vyf eksemplare van Aangename Kennis weg. Laat weet ons per SMS by 35128 wat jou gunsteling-liedjie van Early B is en jy kan dalk wegstap met ’n album.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters