20 dae gelede
Skrywer pak harde issues op verhoog
mission: Enrico Hartzenberg sê dit is belangrik om ons gemeenskap se stories te vertel.Foto’s verskaf  ~ 

DIE talentvolle akteur, skrywer en danser Enrico Hartzenberg van Kuils­rivier het mense aan die praat met sy verhoogstuk.

In Liefde is Rooi fokus hy op kwessies in die gemeenskap waaroor mense liewer wil stilbly.

Só vertel die jong opkomende akteur, wat oorborrel van ’n lus vir die lewe.

“Ek het grootgeword tussen my ma en ouma en kan die vetkryt en wit papier onthou waarmee ek altyd gespeel het.”

Hartzenberg (22) vertel hy het op hul stoep altyd toneelgespeel en gedans. Dan het die mense in hul straat gestaan en kyk.

Hy vertel hy het gehou van al die aandag.

“As kind het ek baie gehou van myself in ’n veilige plek, want daar kon ek net myself wees en ek kon kreatief wees.”

Hy sê hy het nie baie van lees gehou nie, maar eerder van musiek. Dit het hom gekalmeer en dan het die klanke gekom. Hy verduidelik dit praat met hom, dis wanneer sy kreatiewe energie begin vloei en dít sit hom “in karakter”.

Hartzenberg sê die stem van die jeug word nie gehoor nie.

Met Liefde is Rooi wil hy die boodskap uitdra dat dit hoogtyd is dat mense praat en nie langer stilbly oor die baie uitdagings nie.

“Kom ons verbreek die stilte en kom bymekaar rondom tafels as families en dan die breë gemeenskap, want die issues is ’n werklikheid.”

Hy meen die kind se stem word nie gehoor nie en daarom is ons gemeenskappe so gebroke.

Liefde is Rooi is gebore uit myself. Ek het gehoor iemand huil en ek het die universe gevra wat dit is. Toe het ek begin skryf, en die karakters is so gebore.

“Mara, een van die karakters, is verkrag deur haar stiefpa, maar sy kon nooit daarvan praat nie en sy is heeltyd stilgemaak.”

Hartzenberg sê nóú is die tyd dat gemeenskappe uitpraat sodat mense genees kan word.

“Ons as ’n gemeenskap is geneig om nie te praat nie, want ons dink heeltyd: Wat gaan mense sê? Ons sit met ’n krisis en voordat dit erger word, kan ons dit stop sit en die stilte verbreek.”

Hartzenberg sê ’n mens moet nooit toelaat dat die persepsies van mense jou definieer nie.

Hy sê veral dankie aan Maria Hartzenberg, sy ouma, Garth Brydon en Lee-ann van Rooi, vir hul ondersteuning.

Laastens gee hy sy spreekwoord met ’n lekker laggie: “The mother must know ...”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters