16 dae gelede
Rymkletsers is op pad na groot sukses
reuse-DROMe: Rupert Makka, Chadwin Cook, Ameer Kinnear en Lorenzo Huyster is van die groeplede. Die groep het groot planne.FOTO VERSKAF  ~ 

HULLE is al tien jaar saam en is gereed om te engage en lei met musiek.

Ready 2 Engage And Lead, oftewel R.E.A.L, is ’n groep manne tussen die ouderdomme van 19 en 27. Hulle is almal van Hopefield en gereed om groot naam te maak in die musiekbedryf.

Die groep hunker daarna om big shot rymkletsers te word.

Chadwin Cook (25), Rupert Makka (27), Bronwin Papier (26), Joseph Augustus (25) Lorenzo Huyster (19), Griffen Papier (20), Richard Williams (26) en Ameer Kinnear (26) sê hulle vrees nie die musiekwêreld nie.

Hulle het as koshuismaats begin rondspeel met rymklets en hulself eers die naam ‘Real Playaz’ gegee.

“Dit het as stokperdjie begin, totdat ons besef het dinge raak ernstig.

“Dis toe ons ’n naamsverandering ook ondergaan het,” vertel Makka.

Die manne sê hulle is nog nie welbekend nie, maar het al ’n paar verskynings hier en daar en selfs op TV gemaak.

Hul eerste TV-verskyning was in 2011 in Hectic Nine 9 en toe het hulle gaan shine in CapeTV se Hype it Up. Tans het hulle twee musiek­video’s wat opkykNET NOU! speel.

“Ons inspirasie is Hemelbesem, Early B, Youngsta en Kallitz a.k.a. Dr. Boere en Skelm.”

Die groep wil mense graag wys dit maak regtig nie saak van waar jy kom nie.

“Dit gaan oor waarheen jy op pad is! Ons wil die jeug van ons gemeenskap wys dat daar meer as net dwelms en bendebedrywighede is,” aldus Makka.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters