17 dae gelede
Rosey die Rapper blom oppie stage
maak warm: In die Funderland Music Talent Search by GrandWest het Rosey die Rapper die overall singing award gewen.Foto: Natalie Jeanne  ~ 

MOENIE dat haar klein en fyn geboude liggaam julle flous nie.

Wanneer Rosey die Rapper die stage vat, is sy ’n groot bol energie wat g’n perke ken nie.

Rosey die Rapper, oftewel Murensia Block, is ’n rap artist (20) wat al vele kere gewys het sy hoef nie terug te staan vir die gevestigde kunstenaars in die musiekbedryf nie.

Sy het al vele sangkompetisies gewen en stoomroller voort op haar pad na sukses.

Murensia is in Kraaifontein gebore. Ná haar ma se afsterwe het sy in die Bolandse dorpie Porterville by haar ma se suster gaan woon. Sy was drie jaar oud.

Op laerskool het sy aangesluit by ’n groep sangers genaamd The Young Creators. Daar is hulle sangtalente geslyp deur die vaardige hande van twee onderwysers, Pedro Fortuin en Ingrid Fortuin.

“Dít is hoe ek my liefde vir musiek gekweek het,” vertel Murensia.

“Ons het baie R&B en jazz covers gedoen. Ons het oral in die Wes-Kaap opgetree in plekke, soos in Wuppertal, en in die Noord-Kaap in plekke soos Vosburg.”

In haar matriekjaar, in 2016, het sy die groep verlaat en na Oudtshoorn getrek. Hier het sy artists soos WeerBlits, Fabba G en Danny B ontmoet.

Sy het meer aandag aan rap gegee en Die Waarskuwing gestig. Die groep het oral in die Klein-Karoo perform.

By een van Oudsthoorn se jaarlikse sangkompetisies het Rosey die award vir beste fe­male rapper gewen. Die wenners tree dan by die volgende KKNK op.

Kort nadat sy hierdie award gekry het, het Murensia Die Waar­skuwing verlaat en haar in Mitchells Plain gevestig.

Broederbond

“Hier in Mitchells Plain ontmoet ek toe vir Lindsay Langeveldt, wat toe my manager word.

“Sy stel my toe bekend aan die hip-hop movement Broederbond, wat uit ’n groep solo artists bestaan.

“Die ledetal is oor die 60 en dis meestal rappers. Die stigterslid is Charlton ‘Breimasjien’ Davids van Worcester.

“Ek en Lindsay was toe al vroue wat aan Broederbond behoort het.

“Ons besluit toe op die naam Broederbond/Susterbond.”

In April laas jaar het sy die EP Wie Is Ek uitgereik.

Daarna het sy in die Funderland Music Talent Search by GrandWest die overall singing award losgeslaan. Sy het ook by laas jaar se Kite Festival in Muizenberg opgetree.

Mense onthou haar dalk ook as een die artists by Vicky Sampson se Artscape-produksie Many Roots, One Tree.

Haar song “My Naam Hoor” is vanjaar vir ’n Ghoema benoem, maar sy kon nie die event bywoon nie.

Rosey skryf haar eie songs. Sy werk aan haar debuut­album. Dit kom aan die einde van die jaar uit. Dit gaan rap, jazz en R&B bevat.

  • As jy Rosey die Rapper graag wil boek, bel Lindsay by 065 322 9507.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters