3 maande gelede
Rocket Theo se take-off ’n skok
gee my ’n break: Theo Watt waai vir The Rockets bye-bye. Foto: mark ward  ~ 

DIE nuus dat Theo Watt, die gewilde lead vocalist van The Rockets, dié band na 31-jaar gaan los, het baie van die band se fans so bietjie geskok.

Son het Donderdag eksklusief berig oor Watt se besluit om sy eie paadjie in die musiekbedryf te loop.

Hy gaan nou solo optree en ook sy eie CD’s produce. Maar hy noem ook dat hy altyd beskikbaar is vir ’n show of twee as die band hom wil gebruik.

Christo Meyer, ’n Rocket fan van Eersterivier, voel dis ’n bietjie risky om op 50-jarige ouderdom ’n gevestigde band te verlaat en op jou eie te gaan.

“Hy het dan juis twee jaar gelede probleme gehad met radiostasies wat nie sy songs wil speel nie,” sê Meyer.

Christiaan Vermeulen van Worcester sê: “Ek het grootgeraak met The Rockets en is jammer oor Theo die band gelos het. Die spreekwoord sê: ‘Wat is ’n huis sonder ’n moeder?’ En ék sê nou: Wat is die Rockets sonder Theo?”

Sammy May van Genadendal is ’n groot Rocket-ondersteuner al van die laat 80’s en woon gereeld hulle shows by.

“Ek’t gelaik van Theo se goue stem en sy lekker danspassies. Sterkte, boeta Theo, met jou planne.”

Lee-Ann Damons Strydom van Elsiesrivier sê sy was smoorverlief op dié Rocket se goue stem: “Ek het Theo ontmoet toe ek maar 14 jaar oud was deur my oom, Walter Brown. Hy het nie eers geweet ek is verlief op hom nie. Ek gaan hom mis. Die Rockets sal vir my nooit weer dieselfde wees.”

Efraim Fortuin van Korsten in Port Elizabeth was sprakeloos en hartseer oor Theo se weggaan.

Jolene Matthee van Elsiesrivier het weer baie te sê: “Met sy sprankelende persoonlikheid en stem het hy die gehoor geboei.

“Daar was ’n dag dat ek deur ’n stryd gegaan het. Ek was af daai dag en het ’n show van The Rockets gekyk. Maar toe Theo begin sing, toe laat hy my van alles vergeet.

“Ek was sommer ’n ander mens. Dis nogal sad, want hy kon nogal regtig mense bereik deur sy stem en talent.”

Clive Jansen van Uitenhage, Port Elizabeth, sê hy dink nie die Rockets sal weer dieselfde wees sonder Theo nie.

“Voorspoed vir sy toekoms en dankie vir jare se vermaak. Ek het grootgeword met die Rockets. Salute Theo,” sê Jansen.

Megan Filix van Worcester het die laaste sê: “Dit was vir my ’n groot skok om te hoor dat Theo, die hoofsanger van my gunsteling band, groet.

“Theo, jy het my lekker laat kry en my dik lyf laat jingle oppie dansvloer met jou sexy stem.

“Ek wens jou voorspoed en sterkte toe op die toekoms.

“Bygesê, dis ’n groot verlies vir die band.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters