Verlede maand
Ricardo se twee wil sing
talentvol: Carlynn Groenewald se genre is hoofsaaklik jazz en so nou en dan sing sy gospel en R&B. Foto: salmon smith  ~ 

IS DIT nou ’n geval van “die appel val nie ver van die boom nie” of “aartjie na die vaartjie”?

Hoe dit ook al sy, die afgestorwe ‘‘I love you, Daddy’’-sanger, Ricardo Groenewald, se kinders het beslis hulle pa se sangtalent geërf.

Carlynn (20) en Rick-Lynn Groenewald (15) trap nou hulle pa se spore vol in die local musiekbedryf.

Toe ek met die tweetjies gesels, was hulle vol selfvertroue en ogies vol drome vir die toekoms.

Raakgesien

Hulle albei is in Kuilsrivier ge­bore en het daar opgegroei.

Carlynn was maar ’n babatjie van so een jaar oud toe sy altyd tydens haar pa se shows op die stage gekom en stukkies saamgesing het.

Daardie tyd het haar pa reeds haar talente raakgesien en haar begin mentor.

“My eerste konsert was in gr. 4, toe ek Annie gespeel het in Annie the Musical,’’ vertel Carlynn. “Later­ het ek gospel begin sing saam met pa en saam met hom getoer.

‘‘Ek studeer tans hospitality en tourism en is besig met my internship by ’n hotel in Seepunt.

“Volgende jaar beplan ek om vir vier jaar musiek te studeer by Camillo Lombard se Cape Music Insti­tute in Athlone.

‘‘Ek mis my pa baie, want hy het ’n baie groot rol in my lewe gespeel.’’

Carlynn se genre is hoofsaaklik jazz. Nou en dan sing sy gospel en R&B.

Carlynn en Rick-Lynn het in 2013 hulle pa gehelp om ’n song vir Madiba te skryf, toe die staatsman siek was.

Die song ‘‘We love you, Mandela’’ is gerecord en by Samro geregistreer, maar Ricardo het nooit kans gehad om dit uit te reik nie.

Rick-Lynn was ook nog ’n baba toe hy aan musiek blootgestel is.

‘‘My pa het altyd musiek in ons huis gespeel,’’ vertel hy. ‘‘As baba het ek altyd die potte se deksels en lepels uit die kaste gehaal en daarmee musiek gemaak.

‘‘Op my tweede verjaarsdag het my ouers vir my ’n drum set gekoop. Ek het dan altyd my pa dopgehou terwyl hy drums gespeel het en só het ek myself geleer.

‘‘Ek het ook van babatyd af met my pa op verhoë begin sing.

“Later het ek begin deelneem aan talent shows op skool.’’

Rick-Lynn het die dag ná sy pa se begrafnis in 2015, tydens die aanskakeling van die Krismis­liggies, voor ’n groot crowd op die parade “I love you, Daddy” gesing en die skare mal gehad.

In 2016 het hy by die Taliep Petersen Tribute Show perform.

Hy het ook by die Waterfront met die band Top Dog, Madeegha Anders, Jimmy Nevis, Richard Cea­sar en Don Vino opgetree.

Mense kan die twee op Sondag 3 November in die Lift Off Concert by Jubilee Life Ministries in Ravens­mead sien optree waar hulle hulle talente gaan afshow. Dít is saam met bekende kunstenaars soos hulle antie Ginger La Etto.

Kaartjies kos R120 en is verkrygbaar by Quicket of skakel gerus net 083 753 0270 of 081 718 1970.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters