10 maande gelede
Paarliet leef sy droom uit
STER: Roberto Kyle is ’n uitmuntende akteur van die Paarl. FOTO VERSKAF  ~ 

HY IS ’n blink nuwe ster op die horison.

Roberto Kyle is ’n Paarliet in murg en been. Die passie vir toneelspel vonkel in sy oë en straal uit sy persoonlikheid en stem wanneer hy gesels oor sy vooruitsigte in die vermaaklikheidswêreld.

Hy het skoolgegaan by die Laerskool William Lloyd en Klein Nederburg Senior Sekondêr. Van sy opvoeders in die laerskool onthou hom as ’n talentvolle seun.

Een opvoeder sê sy het altyd geweet Kyle sou nog ver gaan, want hy was baie goed in sy voordrag.

Hy het met selfvertroue voor medeleerders sy gedig opsê.

Dis op Klein Nederburg waar die teater-gogga Kyle met mening gebyt het.

Hoewel Klein Nederburg nie drama as vak aangebied het nie, het die skool gereeld teaterproduksies op die planke gebring onder die leiding van Ernest Loth, die Afrikaans- en drama-opvoeder.

“Ek onthou Roberto as ’n speler wat hom in ’n rol uitgeleef het,” verduidelik Loth.

“Die rol word Roberto en hy word die rol, soveel so dat jy nie die oorspronklike Roberto ken nie. En dit is wat acting is.”

Kyle sê die geleentheid om op die verhoog op te tree, het hom oortuig dit is die rigting wat sy lewe moes inslaan – die performing arts. Toneelspel. Kameras! Ligte! Aksie...

Behalwe vir sy toneelspel, is hy ook ’n belowende sanger.

Hy was vir vyf jaar ’n musiek­student onder Jo-Nette le Kay by die Frank Pietersen Music Centre in die Paarl.

Kyle het verder studeer aan die Universiteit van Kaapstad en in 2015 gradueer met sy BA-Honneurs in drama.

Sy eerste TV-rol het hy los­geslaan in die Emmy-bekroonde dramareeks Homeland (reeks 4) as Marwand Haqqani teenoor Claire Danes en Mandy Patinkin.

Hy het ook ’n rol gehad in die Oscar-bekroonde regisseur Gavin Hood se Eye in the Sky as Rasheed Hamud met Helen Mirren en wyle Alan Rickman.

Kyle was onlangs in die Baxter-teater te sien as Carl Abrahams teenoor Marc Lottering, Tarryn­ Lamb en Loukmaan Adams in die verhoogproduksie Aunty Merle, the Musical.

Vervolgens was Kyle in kyk­NET se Knapse Kêrels as Skalkie Fortuin en hy is tans te sien as Lee-Roy in kykNET & Kie se Arendsvlei.

Ons hou dié belowende Paarliet met valkoë dop om te sien hoe hy in die blou lug opstyg op soek na hoër hoogtes om ons hier op die grond op TV of in teaters te vermaak.

You go, boy!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters