2 maande gelede
Nuwelinge sorg vir nog opwinding

DIE tweede seisoen van die briljante webreeks Van Adamse bring nuwe, opwindende karakters na die skerm.

In die eerste seisoen, wat laas jaar uitgesaai is, het kykers die gesoute aktrises Lee-Ann van Rooi en Monique Rockman en die akteur Enrico Hartzenberg van voor af liefgekry. In die tweede seisoen gaan nog briljante akteurs hulle by die rolverdeling aansluit.

Van die nuwe akteurs wat te sien gaan wees, is Keenan Arrison, Deidré Jantjies, Caleb Felix, Emily-Rose van Diemel, Bianca Lakay, Byron Keith en die skrywer van die kinderboek Prinses Pampoenpit, Bianca Flanders.

Ons het dié week saam met Emily-Rose en Caleb gepraat oor hul rolle in dié aanlyn reeks.

Die 23-jarige Emily-Rose, van Belhar, vertel sy het nog altyd daarvan gedroom om ’n aktrise te wees.

“Drama was op hoërskool natuurlik heel boaan my lys van verpligte vakke. Vanaf gr. 9 was ek lid van die skool se toneelgroep.

“My talent in drama is in matriek met ’n goue sertifikaat beloon. Ek was een uit sewe leerders wat dit ontvang het.

“Ek het een van my vele drome bewaarheid deur aan die Universiteit Stellenbosch my honneursgraad in toneelspel te voltooi.”

Caleb sê hy wou ook nog altyd voor die kameras gewees het.

“Ek het altyd daarvan gedroom om op die verhoog en televisie te wees.”

Emily-Rose vertel haar karakter is ’n sterk vrou met ’n dominerende persoonlikheid.

“Ek vertolk die rol van Adrian, Lionel se vrou. Sy word deur ’n gevoel van wraak gedryf nadat haar man vermoor is. Sy eis terug wat haar ontneem is.

“In haar soektog na wraak bedink Adrian ’n duistere plan en sy vee almal uit haar pad.

“Sy weet presies hoe om dit reg te kry om ander persone te oorheers.”

Caleb sê sy karakter, Santos, bring ook drama na die webreeks.

“Hy is ’n vriend en vyand van die Van Adamse-familie.”

Emily sê sy voel baie geëerd om deel te wees van dié uitmuntende rolverdeling.

“Suksesvolle persone omring hulle met suksesvolle mense.

“Dit is ’n voorreg om lid van dié uitgesoekte groep te wees.

“Die produksie het ’n uitstekende storielyn en dit is een van die redes dat ek ja gesê het.”

Die aktrise vertel sy het skoon opgewonde geraak toe sy die script die eerste keer onder oë kry:

“Drama, drama en nogmaals drama!

“My bloed het geborrel en die storielyn het my aangegryp.

“Dit gaan die kykers ook aangryp.”

Caleb sê op sy beurt dit is wonderlik om deel te wees van ’n storielyn wat ons gemeenskappe vier.

“Die reeks is vir my spesiaal, want al die betrokkenes is passievol oor hul craft. Hulle is ook passievol daaroor om die stories van ons mense te vertel en die narrative van ons mense te shift.

“En om die wêreld te wys dat ons driedimensioneel en multi-faceted is.”

Emily-Rose sê sy leer verskriklik baie van die veteraan-aktrise Lee-Ann van Rooi. 

sterk: Emily-Rose van Diemel vertolk die rol van die bose Adriaan. Foto: Roelse events

Nederige

“Lee-Ann is ’n rolmodel vir baie mense en ’n ware legende in die film- en TV-bedryf.

“Sy is ’n baie nederige persoon. Ek het haar toneelloopbaan gevolg. Dit is werklik ’n voorreg om saam met haar in ’n produksie te speel.”

Die aktrise sê die webreeks bring iets nuuts en baie unieks na die Suid-Afrikaanse rolprent- en TV-bedryf.

“Dit is ’n YouTube-reeks en dit gee coloured mense die kans om rolle te speel wat hulle nooit kon speel nie. Ietsie soos ’n Kaapstadse Telemundo,” verduidelik sy.

Hoewel die aktrise se karakter koud en wreed is, is Emily-Rose rustiger.

“Adrian is kil en koelbloedig. Ek het ’n positiewe uitkyk op die lewe. Ek is meer vergewensgesind. Ek hou van uitdagings.

“In Adrian se skoene word ek uitgedaag om geloofwaardigheid aan die karakter te gee.”

Caleb sê ook hy is niks soos sy bose karakter nie.

“Santos het baie innerlike pyn en hy is baie kwaad.

“Caleb, aan die ander kant, is nie so agteraf soos Santos nie.

“Dit is wonderlik om so ’n karakter te speel.”

Maar Caleb en Emily-Rose is nie die enigste twee nuwe gesigte in Van Adamse nie.

Die pragtige Zinnia Rose Petersen, die huidige Mej. Petite Suid-Afrika, gaan ook in die reeks verskyn. Sy vertolk die rol van Amber.

Die nuwe seisoen van Van Adamse begin binnekort.

Mense, as julle nog nie die eerste seisoen gekyk het nie, check dit so gou moontlik op YouTube uit sodat julle weet wat gaan vir wat wanneer die tweede seisoen ons skerms tref. 

nuut: Caleb Felix vertolk die rol van Santos in die webreeks Van Adamse.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters