Verlede maand
Nuwe talent kry eie awards
Nuwe visie: Ashley Pienaar is bekend daarvoor dat hy jong talent raak sien en ophelp.  ~ Salmon Smith

WÊRELDWYD word artists­ vir hulle bydrae tot die musiekwêreld vereer.

In Amerika is daar die Grammy Awards en Suid-Afrika het sy South African Music Awards. Dié geleenthede word meestal vir die bekende artists gehou.

Maar wat van die onbekende, talentvolle musikante wat ook na erkenning smag?

Dit is hiér waar die bekende Kaapse komediant en entertainer Ashley Pienaar besluit het om dié deur oop te maak vir up-and-coming artists.

Pienaar, die stigter van Ashley­ Pienaar Produc­tions (APP), het vorendag gekom met die idee van ’n tipe toekenning om die jong talent­ uit die minderbevoorregte gemeenskappe op te hef.

Die APP Commu­nity Artist Music Awards vind op Saterdag 16 November om 19:30 in die Parow Gemeenskapsaal plaas.

“Ek wil iets doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie,” verduidelik Pienaar.

“Normaalweg, soos dit mos gaan in die musiekbedryf, moet die musikante eers naam maak in die bedryf of een of ander groot kompetisie wen voordat hulle erken word.

“Ons maak daai gaping kleiner. Ons maak nou daardie deur oop vir die up-and-coming artists.

“Met dié awards wil ons vir elkeen sê: ‘Kyk, jy het dit. Jy kan die volgende superster wees.’ ”

Pienaar is bekend daarvoor dat hy jong talent raaksien en ophelp. Hy het self deur moeilike omstandighede sukses bereik.

Hy’t onlangs spesiaal ’n musiek-studio in sy kantoor in Bellville opgerig.

“My key focus is om ons sukkelende artists hier op die Kaapse Vlakte te help. Vir die meeste van hulle is dit gevaarlik daar waar hulle bly.

“Soms moet hulle deur gun-skietery na vriende se huise gaan om te record.

“Die meeste kom uit huise waar daar dwelms gebruik word, maar hulle het die talent en daar word nie voldoende in hulle invest nie.

“Die meeste het nog nie eens op ’n verhoog perform nie. Dalk hier en daar by ’n skoolfunksie of in die straat in hulle gemeenskappe.

“Ek offer nou die studio free of charge aan hulle. Hier is hulle in ’n safe environment, waar hulle stresvry kan werk aan hulle songs.

“Ek het omtrent 80 onbekende artist vanuit Wesbank, Delft, Belhar, Mitchells Plain, Bonteheuwel wat onder APP se label val.

“My visie is om elke jaar die APP Community Artist Music Awards aan te bied.”

Op die aand van die awards word onder meer die volgende aangewys: Beste Afrikaanse rap song, beste Engelse rap song, beste Xhosa rap song, beste musiek-vervaardiging, beste musiekvideo-vervaardiging, beste dansgroep, beste hip-hop-kunstenaar, beste R&B- kunstenaar en beste kontemporêre kunstenaar. Op dié aand gaan die artists met geborgde limousines vanaf APP se kantore tot by die Parow Civic vervoer word.

Bekende artists soos James Bhemgee, Loukmaan Adams, Uncle Kim van Da Ballies, Hybrie Solomons en talle ander sal ook optree.

  • Kaartjies is te koop teen R120 gewoon en dan R200 vir die Golden Circle. Skakel 076 456 4597 of 081 771 8609 vir meer besonder­hede oor die event.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters