6 maande gelede
Nou is hy ‘Map’ en dan is hy ‘Aiden’
MARLO MINNAARFOTO VERSKAF  ~ 

NIE net sien ons hom op die kassie as Aiden in die gewilde TV-reeks Sara se Geheim nie, maar hy sal dié week gedaante bied aan die legendariese Adams Small se boek Krismis van Map Jacobs.

Die uiters talentvolle Marlo Minnaar (29), wat oorspronklik van Oudtshoorn is, neem die titelrol van Map Jacobs oor.

Map is ’n gevreesde bendeleier wat sewe jaar in die tronk was omdat hy sy bendelede beveel het om twee vroue te verkrag.

Hy het homself oorgegee nadat hy besef het die slagoffers was sy ma en suster.

Map is nou op parool vrygelaat en almal wonder wat hy nou gaan doen.

Minnaar vertel die teatergogga het hom gebyt toe hy in gr. 10 in ’n musiekblyspel opgetree het. En: “Toe sê ek vir my ouers ek wil drama gaan swot.”

Hy sê die rolle en karakters wat hy vertolk, laat hom nie snags rondrol nie, maar dat dit tog baie emosies in hom wek.

Minnaar sê: “Elke produksie het sy eie uitdagings – fisiek en emo­sioneel. Soms vereis die een meer van jou as die ander.

“Ek was onlangs in ’n produksie waar ek heeldag in die bloedige hitte in die son moes werk. Of my eenmanvertoning, Santa Gamka, waarin ek binne die eerste tien minute sopnat gesweet was.

“Dit leer ’n mens uithouvermoë en ’n waardering vir die teaterkuns.

“Acting is maar net ’n kunsvorm oor algemene menslike kwessies, soos om ’n spieël voor jou gehoor te hou. Dit affekteer soms ’n mens se gemoed, maar op die ou einde is dit maar net jou werk.”

TV of die verhoog? Minnaar sê: “Ek is in ’n stadium waarin ek albei mediums verskriklik baie geniet.

“Die teater verskil hemelsbreed van TV, maar in wese kom dit op dieselfde ding neer: Om getrou te bly aan die karakter en storie.”

Minnaar sê hy moes baie diep in homself delf vir dié rol omdat Map so ’n gebroke mens is.

Hy sê: “Map is baie intens en emosioneel. Hy worstel met ’n soeke na identiteit en vergifnis – van homself, sy ma en sy geliefdes.

“Hy was sewe jaar in die tronk en nou is hy buite, maar soos hy self sê, dis nie so maklik om weer in die samelewing te beweeg nie.

“Hy het intussen ook aan God begin glo, maar dit lyk asof hy al hoe meer veroordeel en bejammer word deur diegene naaste aan hom.”

En hoe verskil Map van hom?

“Map is ’n gebroke mens. Ek moes my inleef in sy emosionele reis en waarmee hy ook al moes deal.

“In een toneel moet hy teenoor Apostel George, sy geestelike leier, en sy ma alles bely oor die nag toe die daad gepleeg is.

“Dis om homself waarlik te bevry en vergifnis gebied te word.

“Ek dink dít is vir my die moeilikste deel van die karakter.

“Ek het nog nooit so iets ervaar nie, maar moet elke dag na daai donker plek gaan en my inleef hoe ek sou gevoel het as so iets met gebeur het.”

Bitterheid

Minnaar sê hoewel Map en Aiden hemelsbreed verskil, is daar tog ooreenkomste tussen hulle.

“Map is ouer en het reeds die bitterheid van die lewe verduur. Aiden is jonger en naïef, veral wat vroue betref, maar albei ly verliese en verduur verwerping deur familie of die gemeenskap, of albei.”

Omdat Small se boek ’n voor­geskrewe werk is, glo Minnaar die leerders leer ook oor die geskiedenis van “ons mense”.

Hy sê: “Die inhoud is steeds ’n uiters relevante drama omdat die nadraai van apartheid, soos die gedwonge verskuiwings, steeds ellende veroorsaak.

“Baie van die maatskaplike probleme wat dit veroorsaak het, heers nog. Op die Vlakte voer die bendes nog ’n skrikbewind en is baie inwoners nog vasgevang in armoede.

“Dit handel ook oor universele kwessies, soos onder meer kapitalisme, die liefde, wraak, vryheid en die soeke na identiteit.”

Natuurlik moes Son op Sondag uitvis oor wat met Minnaar se karakter in Sara se Geheim gaan gebeur. Hy wou nie veel verklap nie, maar het net gesê: “Die tweede seisoen is vol drama en spanning, en Aiden is so half in die middel van alles.

“Hy word die ergste getref deur baie van die geheime wat uitkom. Hy staan dan voor besluite wat erge gevolge vir hom of sy familie kan inhou. Of hy die regte besluite neem, sal ons maar moet sien.”

  • Krismis van Map Jacobs is van Woensdag tot 19 Mei in die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad op die planke.

Opvoerings is: 9-11 Mei 10:30; Vrydae 10:30 en 19:00; Saterdae, 14:30 en 19:00.

Kaartjies is beskikbaar by Compu­ticket, Shoprite, Checkers of by Artscape se box office.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters