4 maande gelede
‘Nommer 37’ pas Monique
talentvol: Monique Rockman vertel van haar rol in die plaaslike fliek Nommer 37.  ~ 

DIÉ girl weet al van kleintyd af sy wou eendag ’n aktrise word.

En nou het Monique Rockman onlangs haar heel eerste ondersteunende hoofrol losgeslaan in die opspraakwekkende Suid-Afrikaanse fliek Nommer 37.

Monique vertel sy is oorspronklik van Albertinia. Sy het daar gematrikuleer en toe die lang pad Kaap toe gevat om drama te swot.

Om op die verhoog te wees, was nog altyd haar droom.

Sy pak uit: “Ek wou altyd perform. Ek het gehou van sing en act. Ek moes baie vroeg grootword en was ’n ernstige kind.

“Ek het alles ge-overthink, al het ek altyd alles met jokes weggesteek. Om boeke te lees, te skryf, te act was altyd ’n escape.”

Monique is baie lief vir teaterwerk en sy word as ’n spesialis van Shakespeare se werke geag.

Die fliek wat die hele Suid-Afrika aan die praat het, handel oor ’n parapleeg, Randall Hendricks, en sy meisie, Pam Ismael.

Hulle is in ’n gewaagde kat-en-muisspeletjie met ’n gevaarlike misdadiger en sadistiese geld­skieter. Hulle probeer die mis­dadiger afpers en die geldskieter ontduik. Monique sê trots haar rol as Pam is haar eerste hoofrol. Pam is baie getrou aan Randall (gespeel deur Irshaad Ally).

Sy vertel: “Pam is ’n sagte vrou wat diep liefhet. Sy probeer ’n eerlike lewe lei met eerlike werk. Sy probeer Randall uit die donkerte kry en bly deur dik en dun aan sy sy.”

Weird

Monique sê sy is baie soos Pam: “Ons is albei baie sag en vulnerable, maar dis die bron van ons krag. Dit maak vroue soos ek en Pam juis baie sterk.”

En hoe was dit om teenoor die aantreklike, gespierde Irshaad te speel?

Monique lag en sê: “Julle wil Irshaad nou weer laat bloos. Ek raak nie regtig skaam vir mans nie. Ek het gesê ek’s weird.”

Sy sê die fliek bevat baie lewenslesse: “Dit relate op baie vlakke met die lewe deesdae, veral in Suid-Afrika: Swaarkry, dwelms, geweld en mense wat probeer oorleef in aaklige omstandig­hede.

“Dis baie mense se realiteit. Kyk om jou: Toeriste sien net die pragtige stadsliggies, terwyl ons mense op die Kaapse Vlakte swaar kry.”

Monique voeg by: “Ek het pas klaar geskiet aan die TV-reeks Onder die Suiderkruis, wat op 12 Junie op SABC2 begin.

“Ek is baie excited, want dit was so ’n lekker rol. Ek begin ook ’n bietjie modelwerk doen voordat ek te oud word daarvoor.”

  • Nommer 37 draai vanaf 1 Junie landwyd in Ster-Kinekor-teaters.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters