6 maande gelede
Ná Tiervlei turn hy ’n corner kollig toe
Neville Nash
Neville Nash  ~ 

HY KOM uit die tyd van die “afro hairstyle” en die waarde van sy bydrae tot die bruin Kaapse musiek kan gemeet word aan “diamonds and pearls”.

Ja, Neville Nash was een van die talentvolle Kaapse seuns wat Suid-Afrika aan die brand gesing het. Hy het definitief sy merk in die plaaslike musiekwêreld gemaak.

Hy is in Distrik Ses as Neville Paulsen gebore. Kort daarna is sy familie weens die destydse forced removals in Swartrivier naby Mowbray hervestig.

Maar Neville het eintlik in Tiervlei (vandag Ravensmead) grootgeword.

Hy vertel: “My sangloopbaan het in die vroeë sestigerjare op laerskool begin. Ek het mos altyd geloop en sing en met my mond musiekinstrumente nagemaak. Ek het sommer met my een vinger kitaar gespeel, maar die rhythm was goed.

“Aan die einde van die jaar het die onnies my altyd gevra om te sing. Ek was baie skaam, maar omdat ek gehou het van sing, het ek dit gedoen.

“Ons outjies het altyd in Tiervlei op die hoeke gestaan en sing. Die lamppaal se ankerdraad was my tromme en ’n crowd het altyd na ons kom kyk. Só het ek die liefde vir musiek ontwikkel.

Uithelp

“Eendag kom ’n vriend, Patrick de Klerk, verby. Hy luister na my en vra ek moet saam met hom kom om sy band, Cravitz, te join. Dit was in 1965 en ek was so 14.”

Ná Cravitz het Neville vele ander bands gejoin, onder meer Twilights, The Happening, Buckeye, Stone Age en Bloodshed.

In die early sewenties besluit Neville om met sy solo career te begin. Daai tyd het Richard Jon Smith nog vir The Triangle gesing. Wanneer Richard dit nie kon maak nie, moes Neville as sanger uithelp.

In dié tyd het hy songs soos “Diamonds and Pearls”, “Love Me Now” en “Wind Me Up” bekend gestel. Sy genre was soul.

Benewens musiek is Neville ’n kranige akteur. In die vroeë tagtigerjare het hy die naamrol vertolk in die plaaslike movie Jantjie.

Dan was daar ook die oorsese produksie The Riverman en die teaterproduksie The Gods Play.

Maar waar kom hy dan aan die verhoogvan Nash?

Neville vertel: “Die mense was destyds geneig om my van verkeerd uit te spreek. As ‘Paulse’ in plaas van ‘Paulsen’. Ek raak toe moeg daarvan. Van 1972 het ek my van na ‘Nash’ verander.”

En waarom het hy in die tagtigerjare uit die openbare oog verdwyn?

“Daar kom ’n tyd dat jy besluit dat jy het nie die spotlight in jou lewe nodig nie. Ek wou by die huis sit en tyd met my familie spend.

“Ek wil graag vir die mense, veral dié in die Kaap, baie dankie sê vir hulle omgee en steun deur die jare. En aan my goeie vriend in die Kaap, evangelis Abe van der Byl, Gods ryke seën. Ek is baie lief vir jou.”

Neville bly deesdae in Pretoria en sing nou net by corporate gigs en op private funksies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters