2 maande gelede
‘My musiek motiveer’
storie: Cyprian Heideman wil deur sy musiek vertel wat alles deesdae op die Kaapse Vlakte aangaan.foto’s verskaf  ~ 

HY SIEN homself as ’n motiveringsmusikant en hy wil die stem wees vir dié wat te bang is om vir hulself te praat.

Cyprian Heideman (28) van Elsiesrivier voel hy wil deur sy musiek die storie vertel van wat aangaan op die Kaapse Vlakte.

“Ek bly in ’n gebied waar ons jong mense vasgevang is in die greep van bendes en dwelms,” verduidelik Cyprian.

“Ons kinders sterf jonk. Ek wil die boodskap bring dat hulle moet wakker skrik.

Debuut

“Want hoekom moet jy dwelms verkoop en tronk toe gaan vir iemand anders? Hoekom moet jy jou lewe vernietig deur die euwel van dwelmmisbruik? Ek wil deur my songs die jong mense motiveer.”

Cyprian, wat onder die stage name “Rossmore” optree, werk tans aan sy debuut EP (ex­tended play), waarop daar vyf songs gaan wees. Van die songs daarop is “Fruits of Confession”, “Street Life” en “Fast Life”.

Hy beplan om dit in Desember uit te reik.

“Die album gaan oor die euwels op die Kaapse Vlakte en wat ek deurgemaak het tot waar ek vandag in die musiekbedryf is.

“Ek wil ook myself express as ’n artist en ander motiveer.

“Die Amerikaanse rapper Ice-T het eens gesê: ‘We (music artists) are news reporters. We are here to tell a story to the people. We make people aware about the truth.’ ”

Cyprian werk tans in die musiek-ateljee by die I-Can Sentrum in Elsiesrivier.

Hy help up-and-coming artists in die minderbevoorregte gemeenskappe op die Kaapse Vlakte help om hulle musiek te vervaardig.

Op laerskool het hy begin sing in die Holy Trinity-skoolkoor. Hy het ook in die kerk se jeugkoor gesing en drama gedoen.

In Hoërskool Elsiesrivier het hy solo gesing, gedans en aan die jaarlikse High School Jam-kompetisie deelgeneem.

Nadat hy in 2010 gematrikuleer het, het hy aktief betrokke geraak in die musiekbedryf.

Hy het by verskillende record companies gewerk en het daar baie geleer oor die mixing en mastering van musiek.

Jéan-Henry Snyders, qgom-kunstenaar, was sy mentor.

Cyprian was ook lid van die hip-hop-groep Bulletproof. Hulle het aan talle shows deelgeneem, onder meer aan die opelug Park Jam Show in Atlantis.

Daarna het hy solo gegaan en in verskeie nagklubs in die Kaap opgetree.

“Vandag help ek baie artists in ons gemeenskappe met hulle musiek en die legal aspekte daarvan. Ek het al vir SpookAsem, Doep, Richard Heyns, Bran­don Ruiters en Gedagte tracks produce.

“Buiten dat ek ’n motivational artist is, is ek ook ’n soulful producer.

“Musiek is my passie. Dis in my hart – ek voel dit.

“Die musiek wat ek produce, is uniek en nie covers nie. Ek sit feite in my musiek, maar ek probeer ook ’n motivational message uitbring.”

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters