4 maande gelede
‘My lewe moet ’n les vir vele wees’
Nuwe gig: John W Fredericks werk aan ’n nuwe misdaadreeks.Foto: SALMON SMITH  ~ 

OM STORIES te vertel, is sy lewe en hy gaan nog eendag ’n Oscar wen.

So glo John W Fredericks (72), die man agter die bekroonde film Noem My Skollie (2016), wat op sy lewe gegrond is. Hy is vandag ’n inspirasie vir baie mense.

Fredericks is in 1945 in Kewtown, Athlone, gebore. Sy gesin het destyds langs ’n vullishoop gebly.

Hy het baie boeke op die vullishoop opgetel om te lees en het toe ’n groot liefde vir lees ontwikkel. “Lees maak my mind oop en dít gee my daardie hunkering om te skryf en stories te vertel. Van kleins af het ek daardie gawe om stories te vertel.

“Destyds, lank voor televisie, het mense my na hul huise genooi om stories te vertel, dan betaal hulle my.”

Noem My Skollie is nie die enigste film wat Fredericks al gemaak het nie.

Hy het ook verskeie dokumentêre films vervaardig, onder meer Hard Living Kids: Tomorrow’s Heroes (2000), Shooting Bokkie (2003), Freedom is a Personal Journey (2003) vir M-Net en Mr Devious: My Life (2004), waarvoor hy ’n toekenning vir best feature documentary gewen het.

Johnny Loskop, een van sy plays, wat handel oor ’n hedendaagse verlore seun, is destyds deur verskeie skole in Lotusrivier opgevoer.

Noem My Skollie is nie ’n gangster movie nie. Dit is ’n film oor kinderjare, vriendskap en ook verraad in die ergste graad. Ons was nie ’n gang nie. Ons was ’n familie wat mekaar bygestaan het om onsself te beskerm.

“Ons het baie seergekry. Toe het ons besluit ons gaan terugbaklei.”

Oor die voorval waar sy karakter in die tronk met “Gums” baklei, verduidelik hy: “Ek het uit vrees ge­reageer oor ek nie wou seerkry nie.

“Ek wou nie ge-violate word nie. Ek het geleer die vinnigste lewe die langste.”

Hy het in 2006 en 2007 in Johannesburg die Sediba-program in die skryf van draaiboeke en die vervaardiging van films voltooi.

“Die National Video and Film Foundation – ’n regeringsorganisasie – het my geborg.

“Ek was die enigste bruin man met net standerd ses agter my naam, tussen groot skrywers en gevestigde film­makers ...

“Aan die einde was ek die enigste een wat ’n hoë persentasie van 65% behaal het en met ’n nota dat Noem my Skollie gemaak moet word.”

Hy is besig met ’n misdaadreeks van 13 episodes vir SABC 3, wat op ’n ware verhaal gebaseer is. Meer wou hy nie verklap nie.

Hy doen ook motiveringspraatjies by skole, tronke, kolleges, verbeteringskole en kerke.

Ten laaste noem hy: “Die realiteit in ons gemeenskappe is armoede, bendes en geweld en ek wil graag my wyshede en lewe met die mense deel.

“En aan die jong mense daar buite wil ek sê dit is nie worth it om ’n gangster te wees nie. En respekteer jou ouers.”

En saam kan ons solank duim vashou vir daardie Oscar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters