4 maande gelede
Mr. Mize reik sy eerste CD uit
ster: Mr. Mize se CD is eersdaags op die rakke. FOTO’S VERSKAF  ~ 

NÁ ’N klomp jare in die musiekbedryf het Mr. Mize besluit om sy debuutalbum uit te reik.

Mr. Mize, wie se regte naam Marius Roodman is, het onlangs sy Afropop-album, Plain and Simple, in die Worcester-gemeenskapsaal bekend gestel.

Die CD bevat vyf snitte, waarvan vier oorspronklike songs en een ’n cover song is.

Die songs sluit in “Onder die Bome”, “Memories”, “Platpens” en die cover song is “Perfect Peace”.

Mr. Mize is in 1970 in die pragtige Bolandse dorpie die Paarl gebore en hy het daar grootgeword. Hy woon tans in Worcester.

Op die ouderdom van 12 het hy sy unieke manier van kitaarspeel ontdek nadat sy oupa Jan Roodman hom sy eerste kitaar gegee het.

Mr. Mize het sy talent onder die wakende oog van sy musikale familie ontwikkel.

Hy was later die kitaarspeler van die kindergospelgroep Gospel Messengers van die Paarl.

“In 1987 het ek my aangesluit by die bekende gospelgroep Faithful Volunteers van die Paarl.

Daarna het my professionele loopbaan as musikant begin.

“Ek het in 1985 musiek gestudeer aan die Universiteit van Kaapstad en het verskeie jazz-werksessies bygewoon.

“Ek het ook met die gospellegende Simon Seekoei saamgewerk aan verskillende projekte.”

Afrigter

Mr. Mize het al skouers geskuur met groot name soos Brenda Fassie, Sipho “Hotstix” Mabuse, Hugh Masekela, Jimmy Dludlu en Karen Kortjé. Hy het al baie feeste agter sy naam.

Die kunstenaar het ook al musiek­onderrig by verskeie instellings soos die Athlone School for the Blind gegee.

In 2011 was hy die afrigter van die Worcester Sekondêre Skool se jazzband en hy het hulle vir die Kaapse jazzfees voorberei.

“In 1997 het ek die toekenning Best New Artist: Vocals by die Hope South Africa Awards gewen, as deel van die local gospelband Return Vocal Ministries van die Paarl.

“Een van my hoogtepunte was toe ek in 1994 gesing het by die Erfenisdagvieringe in Upington, waar Nelson Mandela ook teenwoordig was.”

Mr. Mize is boonop ’n internasionaal erkende musikant. Hy’t sy internasionale debuut in 2004 gemaak toe hy met die SA band Public Opinion by die Regal Plaza Hotel in Dubai opgetree het.

Dié band is gekies as die groep wat die meeste mense vir die Regal Plaza Hotel getrek het.

Mr. Mize is ’n veelsy­dige musikant wat ook klavier en tromme kan speel, én hy sing en skryf sy eie musiek.

Hy het oor die jare al baie jong mense wat voltyds in die musiekbedryf is, geïnspireer.

  • Bel hom by 074 845 2904 om sy CD te koop. Volg hom gerus ook op Facebook by “Mr. Mize Roodman Band”.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters