5 maande gelede
Meisiekind en album in selfde tyd
debutant: Yoma se eerste album, Moedertaal, is uitgereik.FOTO’S VERSKAF  ~ 
debutant: Yoma se eerste album, Moedertaal, is uitgereik.FOTO’S VERSKAF
geen onderskrif nodig
ARBEIDSVRUGGIE: Yoma se dogtertjie is gebore net ná die produksie van Moedertaal.

DIE Afrikaanse rymkletser Yoma sê sy het haar deurbraak in die genre gemaak met haar musiekvideo “Sê Wat Jy Wil”.

Yoma (uitgespreek “djou ma”), wat oorspronklik van Pacaltsdorp in George is, se regte naam is Claudia Witbooi.

Yoma sê dié video, wat sy met Staff Members Productions (SMP) opgeneem het, het nogal waves gemaak.

Dit was eintlik in 2014 op die hip-hop-indaba wat jaarliks in Kaapstad gehou word dat sy bekend geword het, vertel Yoma.

Yoma sê sy het haar verhoognaam vandat sy begin rymklets het. Sy meen dis lekker catchy en net reg vir die genre.

Sy is getroud met die bekende TV-aanbieder van Pasella, Simon Witbooi, beter bekend as Hemelbesem.

Hulle bly tans in Johannesburg en is geseënd met hul engelkind wat verlede maand gebore is.

Haar jongste album, Moedertaal, is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Terloops, die tweede snit daarop, “Wille Kat”, is benoem vir ’n Ghoema-toekenning.

Yoma sê gedurende die ses maande dat sy aan die album gewerk het, was sy swanger.

Sy het net lof vir die “ongeloof­like produksiespan” Besembos.

Sy sê: “Dit was vir my belangrik om tydens my swangerskap die reis na ma wees in die produksie te deel.

“Ek voel dit kan die wanpersepsies oor swangerskap opklaar.

“En toe, ná die produksie, word my pragtige dogtertjie gebore.

“Sy is my pragtige blom.

“Dis die beste ervaring ooit: Om ma te wees en dit te deel op my eerste album.

“Ál die materiaal op Moedertaal is oorspronklik, maar verskeie pro’s het bygedra tot die eindproduk: Stuwi, Reggie B, Dokte, DJ Ready D, Coenie de Villiers, Hemelbesem en GIGA.”

Yoma bevestig iets wat die meeste van ons reeds weet: Daar is nie so iets soos handouts in die lewe nie; ’n mens moet maar hard werk.

“Soms moet ’n mens baie opoffer vir wat jy wil bereik, maar jy sal die vrugte daarvan later pluk,” filosofeer Yoma.

“Moenie toelaat dat jou opofferings jou mismoedig maak nie; bly strewe na die doelwit.

“Glo in jouself en strewe voluit vir wat jy wil word of hê in die lewe. God sal ’n mens altyd gee waarvoor jy vra, maar jy moet gereed wees daarvoor.

“Wat ’n mens ook al verduur, gebeur met ’n rede. Wanneer ’n mens lyding verduur, word jy wyser.”

Yoma meen wanhoop bied niks. Dis ’n negatiewe emosie wat ’n mens gevange hou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters