Verlede maand
Maak reg vir lekker spooky stuk
span: Monique Rockman, Chris Vorster en Sandi Schultz is te sien in Die Spreeus.  ~ 

EEN van die dae is daar ’n nuwe reeks op die kassie wat jou hare pen­orent sal laat staan.

Kyk, as spoke en bonatuurlike goeters jou ding is, dan is DieSpreeus net die regte reeks vir jou.

Ons het dié week gesels met Monique Rockman, wat die rol van Beatrice Mack in dié opwindende gruwelreeks vertolk.

Die splinternuwe riller van kykNET­ handel oor twee polisie­lede, Beatrice Mack en Bas Koorts (gespeel deur Chris Vorster).

Maar dinge is nie altyd net wit en swart soos ’n mens maar dink nie. Die tweetjies kry onder meer te kampe met bonatuurlike elemente soos tokkelossies, spoke en zombies wat by die misdade betrokke is.

Die hardegat Beatrice en helderdenkende Bas, wat ’n amperse graad in sielkunde het, moet dan van hierdie bonatuurlike raaisels sin maak. Van die stories wat in die reeks vertel word, is Suid-Afrikaanse volkstories soos die een van die Spook van Uniondale.

Die talentvolle aktrise sê sy was so opgewonde toe sy die draaiboek vir die eerste keer onder oë kry.

“Dit is die eerste keer dat ek so iets gelees het. Dit was vir my ’n groot voorreg om die rol van Beatrice te kry.

“Beatrice is nie ’n stereotipe nie en dít is wat ek waardeer.”

Monique vertel Beatrice laat haar nie maklik voorsê nie.

“Sy is verskriklik intelligent, maar sy is rebels. Sy is nie op haar bek geval nie.

“Sy is nie bang nie. Sy is nie net die mooi poppie wat iemand se meisie is nie.

“Sy’s nie ’n stereotipe nie. Sy het fisika geswot en toe sluit sy aan by die polisie.

“Sy is ’n baie sterk karakter. Sy het baie layers en dit is wat haar so interessant maak.”

Monique vertel daar is in elke episode gasspelers en dié akteurs is van die beste in Mzansi.

“Ons almal het baie hard gewerk aan die reeks en die storielyn is baie intens. Daar sal ’n hele paar oomblikke wees waar die kykers op die punt van hulle stoele sal wees en rillings kry.

“Daar is baie tye waar julle gaan hartseer raak; julle sal ook by tye hardop lag.”

Sy sê die reeks is perfek vir jonk en oud.

“Dis vir enigiemand wat hou van spookstories en mysteries. Daar is wel ’n age restriction en die subject matter is horror.

“Mense kan maar ontspan – daar is niks demonies aan die reeks nie. Dis spookstories wat gewoonlik om die vuur vertel word.

“Ons vertel ons eie Suid-Afrikaanse spookstories en ons doen dit in ons eie taal.”

Volgens Monique is die reeks die eerste van sy soort wat op die Suid-Afrikaanse kassie verskyn.

Die aktrise sê hierdie reeks is vir haar spesiaal oor Bas en Beatrice nie jou tipiese storielyn van girl meets boy en hulle twee raak verlief op mekaar is nie.

“Die hoofkarakters kom uit twee verskillende wêrelde en hulle bots baie met mekaar. Maar hulle vind mekaar in ’n verstandhouding, want hulle gaan ’n wêreld in wat vir baie mense onbekend is.” 

Foto:
sterk vrou: Monique­ Rockman vertolk die rol van ’n cop, Beatrice. foto’s verskaf
span: Monique Rockman, Chris Vorster en Sandi Schultz is te sien in Die Spreeus.
  • Die Spreeus begin Dinsdag 9 April om 20:00 op kanaal 144.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters