4 maande gelede
Lorcia bewys haar weer as een van ons bestes
??
Lorcia Cooper as Lucille in Still Breathing.  ~ Foto Verskaf

LORCIA Cooper se vermoë om op dieselfde tyd aan twee hoëkwaliteitproduksies te werk, getuig van haar kaliber as een van Suid-Afrika se top-aktrises.

Lorcia, wat in Manenberg gebore is en in Mitchells Plain grootgeword het, het verlede jaar begin skiet aan die vyfde seisoen van Lockdown, asook die nuwe M-Net-produksie Still Breathing.

Lockdown, waarin sy die bad-ass tronkvoël Tyson speel, het reeds aan die einde van laas maand op Showmax begin stream. Still Breathing, waarin sy die prokureur Lucille speel, première vanaand.

Still Breathing is ’n dramareeks wat gaan oor ’n groep vriende wat oor die jare uitmekaargedryf het, maar weens tragedie weer bymekaar uitkom. Dit veroorsaak dan dat ou wonde en geheime weer oopgekrap word.

“Om tussen die twee stelle te hardloop en eers Tyson te speel en dan Lucille... Dit was crazy. Dit het net vir my herbevestig dat ek die vaardighede en vermoë het," vertel Lorcia aan Son.

“Ja, ek was baie moeg maar baie vervul. Wanneer jy goeie werk doen, maak dit nie saak of die liggaam of brein moeg is nie, as jy vervul is, kan jy enige iets in die lewe doen.

“My eerste dag van aan Lockdown en Still Breathing skiet, was op dieselfde dag. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek dink dit is hoe God werk.

“Dit gaan nie net oor achieve wat jy dink jy kan nie, maar om meer te achieve as waarvan jy dink jy capable is. Ons droom baie klein, maar die Here het groter planne vir ons.

“Ons ken almal vir Tyson. Sy is die tronkvoël, baie hardcore en in your face. Haar volume is hectic hoog. Sy is die polar opposite van Lucille, wat ’n lawyer is en mense in die tronk sit.

“Lucille ken haar reg van verkeerd af. Ons word geleer dat jou leuens nagevolge het. Maar selfs die waarheid het nagevolge, en in die reeks gaan ons sien dat Lucille se waarheid nagevolge het. Sy is iemand wat baie sterk is, maar selfs om so sterk en so gefokus te wees, kan gekompliseerd raak.”

Lorcia, wat destyds bekend geword het as Charmaine in Backstage, sê een besluit gaan haar karakter se lewe verander.

“En daai besluit is oor die waarheid,” sê sy.

Goed genoeg

Lorcia kan nie uitgepraat raak oor die script nie. Sy sê sy het by die eerste tafellesing vir haarself gevra: “Is jy goed genoeg hiervoor?”

Dit is ’n vraag wat sy haarself afvra wanneer sy ’n nuwe projek aanpak, maar nie omdat sy in haarself twyfel nie.

“Jy moet nooit dink jy is goed genoeg of te goed nie. Om daai vraag te kan beantwoord, is die magic.

“Jy vra jouself daardie vraag wanneer jy die eerste keer die script kry, maar wanneer jy op daai stel stap, moet jy weet jy is goed genoeg.”

Lorcia sê die regie van Johnny Barbuzano, was perfek vir die script, wat geskryf is deur sy vrou, Tiffany.

“Dit was net so subtiel. Hy het almal se werk, dit wat hulle voorheen gedoen het, geken. So hy’t geweet hoe om iets anders uit jou te bring en vir my was dit baie spesiaal.

“Want jy kan op ’n stel gaan en doen wat jy altyd doen of jy kan daarop gaan en meer leer oor wie jy is as ’n performer. En Johnny het daai uitgebring, daai ander kant van jou wat jy nie eens gedink het jy het nie. Daai subtlety in jou performance en iets different wat jy nie geweet het jy het in jou in nie. Ek het dit regtigwaar waardeer.”

Lorcia sê die styl van Still Breathing, hoe dit geskiet is, die beligting en die klere is van wêreldgehalte.

“Dis iets baie anders aan Suid-Afrika. Ons vra nie meer ‘is dit goed genoeg vir Suid-Afrika?’ nie. Ons vra nou of dit goed genoeg is vir die wêreld.  Die kompetisie is nie meer op ’n nasionale standaard nie; dis nou op ’n internasionale standaard. Ons bou nie meer nie; ons is nou daar.”

Sy sê mense gaan van die reeks hou omdat daar iets is waarmee elke persoon hom kan vereenselwig.

“Die opregtheid in almal se performance gaan ook almal baie diep aanraak,” sê Lorcia.

Lorcia is vanjaar weer benoem vir die Safta vir beste byspeelster.

Hoewel sy laas jaar dié toekenning gewen het vir haar rol as Tyson, is sy steeds oorweldig deur die benoeming.

“Ons werk op daai show. Ons gee alles en hou niks terug nie. Dis nie ’n gegewe dat ’n mens die erkenning kry nie, so dis altyd nice. Ek is baie nederig en dankbaar daarvoor.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters