Verlede maand
‘Laan’ se clint leef sy droom
INSPIRASIE: Die akteur en musikant Clint Aplon saam met Annelize van der Ryst.FOTO’S VERSKAF  ~ 
  • ­ONTMOET die nuwe gesig in 7de Laan ...

Dié Bolander het ’n passie vir die kunste. Nie net maak hy waves op die kassie nie, hy maak ook in sy vrye tyd musiek.

Aplon het in 2016 ’n graad in uitvoerende kunste by Afda in Kaapstad verwerf en vroeër vanjaar ’n internship by 7de Laan losgeslaan.

Hy was al in verskeie advertensies en TV-produksies te sien.

Aplon glo alles is moontlik as jy deurdruk en in jouself glo. Die dag van die oudisie vir 7de Laan het hy met ’n gebreekte been daar opgedaag!

Aplon het sy debuut in 7de Laan in Julie gemaak.

Hy vertolk die rol van Romeo, ’n verpleër. Aplon is in werklikheid maar skrikkerig vir bloed.

Dié talentvolle jong man het onlangs op ’n klein budget sy eerste musiekvideo, “Verlief in Afrikaans”, geskiet saam met die rapper Zee.

Die video maak groot opslae in die sosiale media.

Die lied vertel van ’n ou wat verlief raak op ’n meisie en al sy moed bymekaarskraap en haar uitvra – als in sy moedertaal. Aplon het die liedjie self geskryf.

Sy ander liefde is diere, veral sy honde, Cloudy en Reign, wat vir hom baie vreugde bring.

In sy vrye tyd geniet hy dit ook om sokker te speel.

Sy gunsteling-fliek is Grease en hy is vreeslik bang vir hoogtes.

Die leerders van die Worcester Sekondêre Skool kon nie uitgepraat raak toe die akteur onlangs one-on-one-sessies met jong en opkomende akteurs by die skool gehad het nie. Hy het hulle aangespoor om hulle drome na te jaag.

Opofferings

Aplon sê: “Ek glo God gee my krag om elke dag op te staan. Hy het vir my die talent gegee en dit laat my voel ek moet my talente ontwikkel.

“My pa het baie opofferings gemaak om vir my die beste te gee om my drome na te jaag. Ek is baie gelukkig in my werk en dat ek doen wat ek nog altyd wou doen – om voltyds akteur te wees.

“Wat ek vir seker weet, is talent is nie genoeg nie. Jy moet hard werk om die beste daarvan te maak.

“Ek was verskriklik op my senuwees, maar glad nie bang nie. Om in so ’n gewilde sepie te speel was nog altyd my droom en om met sulke talentvolle akteurs te werk, het my net vinniger laat groei.”

Aplon vertel die trek Johannesburg toe was nie maklik vir hom nie, veral omdat hy so gewoond was aan sy ma se lekker kos.

“Baie van my kollegas het gehelp met meubels vir my flat. Ons is soos familie en almal help mekaar graag.”

Aplon sê ’n mens se fokus en ambisie bepaal jou toekoms.

“Dit is belangrik om jouself te push. Jy moet elke dag wil groei in jou beroep as akteur.

“Dis waar harde werk jou talent sal laat skyn. In hierdie bedryf moet jy konstant goeie werk deliver.

“Ek hoop om ’n groot deel van 7de Laan te wees in die jare wat kom.”

Hy sê sy groot droom is om ’n groot impak te hê in die Suid-Afrikaanse fliek- en vermaakbedryf.

En met al sy talent en liefde vir die kunste gaan sy ster nog sommer helder skyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters