8 maande gelede
Karoo-kind se boek vertel van sukses
Bevan Jacobs stel sy eerste boek bekend.  ~ foto verskaf

HY KOM uit die stofstrate van Beaufort-Wes in die Groot-Karoo en proe nou sukses.

Bevan Jacobs, entrepreneur en motiveringspreker, het van kleins af geweet hy gaan eendag sy eie baas wees.

Hy sê: “Ons het met baie min grootgeword, maar my ma het ons geleer jy kan uit niks iets maak en ander mense hoef nie te weet wat by jou huis aangaan nie.

“Ek kan onthou, in die primêre skool moes ek ’n plastieksak dra en kaalvoet skool toe gaan, want daar was nie geld nie.”

Jacobs vertel: “Ek het met my stiefpa grootgeword en nooit my eie pa geken nie, maar ná 20 jaar het ons weer geconnect.

“Vandag bring ek hulde aan enkelouers, want my ma het ons geleer om niemand iets te vra nie en om hard te werk vir wat jy in die lewe wil hê.

“Ek kan nog onthou vanaf gr. 5 het ek by die skool lekkers verkoop en in die middae voor ons huis groente verkoop.

“Van daar tot vandag toe koop ek ook my eie toiletware.

“Ek het getrek van Beaufort-Wes na Wesbank in Kaapstad.

“Die aanpassing was baie groot, want die groepsdruk was hewig.

“Hier het ek betrokke geraak by gangsters, die Mal Boys.

“Ons het gedans, maar ek het gou besef dwelms is nie vir my nie.”

Bevan voeg by: “Ek het ’n werkie gaan soek en begin werk by ’n wholesaler, waar ons alles moes doen in die winkel.

“Ek onthou nog die baas was baie suinig.”

Jacobs het op 16 jaar pa geword terwyl hy nog self ’n kind was. Hy sê die druk was geweldig.

As 18-jarige het Jacobs toe sy eerste besigheid, Money Life Debt Solutions, begin. In dié tyd het hy ook getrou, maar die huwelik het net drie jaar gehou.

Sy besigheid was ’n groot sukses, maar later het Jacobs dit verloor weens foute wat hy gemaak het.

“Dit was ’n baie moeilike tyd vir my weens die egskeiding en die besigheid wat ek verloor het, maar wat my gered het, was my grootwordjare wat die fondament gelê het, en veral my geloof wat my gedra het.

“Ek het weer van onder af begin en die moed bymekaar gekry om met die hulp van ’n vriend R10 000 te leen vir die deposito en huur van ’n kantoor in Bellville.

“Toe ek by die persoon kom om die deposito en huur te betaal, sê hy: ‘Hou die R5 000.’

“Later was dié geld genoeg vir meubels en soos hulle sê, die res is history.

“Ons besigheid se naam is Bevan Jacobs Associates. Vandag kan ons met trots sê ons het ’n staff van 23 wat vir ons werk.”

Jacobs het pas sy eerste boek, The Economic Warrior, bekend gestel.

  • Kontak Bevan gerus by 060 819 9510 of e-pos storm@bevanjacobs.co.za as jy belang stel om die boek aan te skaf.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters