9 maande gelede
Jolene vlieg hoog op kassie in ‘Arendsvlei’
MOEILIKHEID: Beatrice Abrahams (Jolene Martin) en haar man, David (Oscar Petersen), stamp gereeld kop in die dramareeks.FOTO’S VERSKAF  ~ 

‘ONS is nie net akteurs nie. Ons is die stem van die nasie.”

Só sê die uitmuntende aktrise Jolene Martin, wat die rol van Beatrice Abrahams in die nuwe telenovela Arendsvlei speel.

Martin is die oudste van drie kinders. Haar ma, Charlene, is ’n operasangeres en haar pa, Joe, ’n ontwerp-ingenieur.

Sy het grootgeword in die Kaap. Sy was by die Laerskool Montagu Drive in Mitchells Plain, die Laerskool Thornton Road in Crawford en het aan Sans Souci Girls’ High in Nuweland gematrikuleer.

Die aktrise is al van jongs af op die kassie waar sy haar loopbaan as aanbieder begin het.

Plakker

TV-kykers sal haar onthou as die aanbieder van Coca-Cola Mega Millions, die Powerball en Lotto Draw en sy het ook in Scoop Schoombie gespeel.

Die aktrise beskryf haarself as ’n oop boek beskikbaar vir enige iemand om te lees, met ’n plakker daarop wat sê: “Hanteer versigtig”.

Sy vertel die vyf dinge waarsonder sy nie kan klaarkom nie, is haar selfoon, waterbottel, Placecol-produkte, 4x4 en familie.

Die 39-jarige aktrise sê sy hou van uitdagings en het nog altyd geweet meer uitdagende rolle sou later in haar loopbaan opduik.

“Ek het besluit om te wag. Die gewag het vrugte afgewerp! Bea­trice Abrahams is alles waarvan ek in ’n acting role kan droom.

“Theltom Masimila, die draaiboekskrywer van Arendsvlei, het ’n karakter geskep wat ’n wye emosionele reeks ondersoek. En ek is so dankbaar dat ek genoeg vertrou is om hierdie karakter te speel.”

Martin sê sy en haar karakter het baie ooreenkomste.

“Beatrice Abrahams is baie soos ek. Ons het albei sterk leiers-eienskappe en die neiging om oplossings te skep vir die probleme wat ons rondom ons sien.

“Ons stel ander mense voor onsself. Ons is lief vir die gemeenskap en familie.”

Hierdie telenovela lê die aktrise baie na aan die hart.

“Dié is ’n vroulike verhaal wat aandag gee aan rou en werklike onderwerpe in ’n konteks wat die verhaal van die Kaapse Vlakte vir ewig sal verander.

Arendsvlei is nie net ’n show nie, dit is sosiale kommentaar. Ons is nie net akteurs nie, ons is die stem van ’n nasie.

“Hierdie projek is vir my spesiaal omdat dit substance het.”

Die belangrikste les wat sy uit die reeks geleer het, is om jouself te beskerm omadat niemand anders dit vir jou gaan doen nie.

Die aktrise sê Arendsvlei is ’n spieëlbeeld van die hedendaagse samelewing.

“Ek het grootgeword deur te dink dat sommige probleme spesifiek vir Mitchells Plain was, net om dieselfde probleme oral te vind.

“Daar is ’n aanhaling wat lui: ‘Die gehoor kom nie om jou te sien nie, hulle kom om hulself te sien.’

“In Arendsvlei sal die kyker hulle self herken of iemand wat hulle ken.

“Ons regisseur, Denny Miller, ondervra ons voortdurend as akteurs om te verseker dat ons keuses in die werklikheid gewortel is.

“Hy plaas groot vertroue in ons, maar hy hou ons op ons tone sodat ons nie lui word nie.”

Volgens Martin is Arendsvlei ’n telenovela wat geskik is vir die hele familie.

“Theltom het ’n storie gemaak wat kykers van alle ouderdomme aantrek.

“Ek voel ouers moet dit saam met hulle kinders kyk om hulle voor te berei vir hoërskool en die lewe daar buite.

“Mans moet saam met hulle vroue kyk. Grootouers moet kyk sodat hulle nie uit kontak raak met die kwessies wat hulle kleinkinders in die gesig staar nie omdat dit werklik ’n dorp neem om ’n kind groot te maak.

“Sportafrigters en opvoeders moet kyk sodat hulle holistiese rehabilitasie verstaan, en selfs politicians moet kyk sodat hulle ’n stewiger idee het van wat in ons gemeenskappe aangaan. Hierdie show is vir almal.”

En as Martin nie vir Arendsvlei skiet nie, is sy in Johannesburg waar sy haar eie produksiemaatskappy het.

Hulle vervaardig tans hulle eerste feature-length dokumentêr met die hulp van die National Film and Video Foundation of South Africa (NFVF).

Martin is ook die mede-eienaar van ’n aanlyn inkopie-site genaamd Beauty Boss.

Sy vertel sy is die stem van ’n paar pan-African korporatiewe handelsmerke. En sy anchor nog ’n live besigheids­uitsending in Johannesburg wanneer haar Arendsvlei-skedule dit toelaat.

Sy gee raad vir jeugdiges wat eendag ’n loopbaan in die acting-bedryf wil volg.

“Bemeester elke area van jou bedryf, want dan sal jy altyd in diens wees.

“In entertainment moet ons meer as triple threats wees.”

  • Arendsvlei is elke Maandag tot Woensdag 20:00 op kyk­NET&Kie (DStv-kanaal 145).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters