6 maande gelede
Hy vat lewe met mening
ek’s bernardo: Daniel Richards is te sien in die musical West Side Story.Foto: Rutland Manners  ~ 

‘EK IS op ’n goeie plek in my lewe, want ek kan kies in watter produksies ek wil wees.”

So sê Daniel Richards, liedjieskrywer, akteur, regisseur en musikant.

Daniel is in Switser­land gebore en het in Kaapstad en Jozi grootgeword.

Hy sê self­versekerd: “Ek het altyd geweet ek is gebore vir greatness en dat ek suksesvol sal wees in wat ek wil doen.”

Daniel lag wanneer hy vertel hy was ’n energieke, hiperaktiewe kind op skool. Hy sê sport het darem baie van sy energie verbrand.

“My liefde vir die kunste het in gr. 9 ontstaan toe ek betrokke geraak het by ons skool se verhoogproduksie van Lord of the Flies.”

Daniel sê hy is mal daaroor om mense se stories te vertel, “want elke storie maak saak”.

Hy meen dis baie belangrik dat ’n mens jou altyd daarop moet voorberei om ’n geleentheid te benut.

Die selfversekerde Daniel sê egter beskeie dis ’n groot voorreg om die verhoog te deel met gesoute akteurs en rolle te speel in wêreld­gehalte-produksies.

Daniel speel die rol van Bernardo in die bekende musikale verhoogstuk West Side Story. Hy is die leier van ’n bende, die Sharks. Die drama speel hom af in New York in die middel-1950’s.

Dis ’n hartverskeurende verhaal van twee jong verliefdes, Tony en Maria, wat vasgevang is in die gewelddadigheid van straatgevegte tussen die Sharks- en Jets-bende.

Bernardo, bendeleier wat hy is, is ’n passievolle man en wil sy familie, en veral sy suster en girlfriend, net die beste wat hy kan in die lewe bied.

Bernardo voer ook ’n stryd om sy plek in die samelewing te vind. Hy glo dat elke mens regverdig behandel moet word en aanvaar moet word vir wie en wat jy is.

Daniel sê hy het hom baie goed voorberei vir die rol en moes elke dag ure in die gym oefen en selfs Bernardo se Spaanse aksent aanleer.

Hy bieg: “Dis nie ’n maklike taak om terselfdertyd te dans, te sing en toneel te speel nie.

“Dis net danksy jare se ondervinding dat ek dit kan regkry.”

“Daniel sê sy familie en vriende is altyd daar vir hom in moeilike tye. Hul ondersteuning, sê hy, help altyd dat hy ’n sterker mens ná ’n ordeal is.

Sy boodskap aan jong mense is: “Volg jou drome.

“Werk hard, want goeie dinge val nie sommer in ’n mens se skoot nie, en jy sal die vrugte daarvan pluk.”

West Side Story, waarin bekende akteurs soos Lynelle Kenned, Bianca le Grance en Craig Urbani speel, word nog tot 8 April in die Artscape-operahuis opgevoer.

Bel Computicket vir besprekings of skakel 021 421 7695 daarvoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters