2 maande gelede
Goeie siel pak die musiekbedryf
award: Lady K Soul pronk met haar toekenning van die Cape Music Institute vir Most Improved Student.  ~ 

SY IS nog net vier jaar doenig in die musiek­bedryf, maar dié 25 jarige sangeres het klaar groot toekomsplanne.

En terwyl haar kop hoog in die wolke is, staan Lady K Soul, die sangeres met die goue stem, met haar voete plat op die aarde.

Lady K Soul, wie se regte naam Kristen Fortuin is, is baie optimisties en opgewonde wanneer sy oor haar musiekloopbaan praat.

Sy spits haar meestal toe op die soul-genre, maar sing ook ’n bietjie van R&B, jazz, en selfs deep house.

Sy is tans besig met die beplanning van haar debuut-EP met vyf songs op. Sy mik na ’n bekendstelling vroeg volgende jaar.

Intussen wil sy solank twee singles uitreik.

Kristen, wat haar eie musiek skryf, vertel verder: “Dit gaan nie oor mý nie, maar oor my musiek. Ek wil nie beroemd wees nie, ek wil hê die mense moet weet van my musiek en dit geniet.

Aanmoedig

“Daar is altyd ’n boodskap in my musiek, veral vir jong mense.

“Ek het spesifiek ’n song genaamd ‘Change’ geskryf, waarin ek die jong mense aanmoedig om positiewe veranderings in hul lewe te maak.”

Lady K Soul, ’n boorling van Strandfontein in die Kaap, sing al van hoërskooldae af. In haar gr. 9-jaar aan die Hoërskool Strandfontein het sy deelgeneem aan die Valentynsdagkonsert en dít is waar alles vir haar begin het.

Daarna het sy op heelwat van die skool se verskeidenheidskonserte gesing.

In haar matriekjaar het sy selfs ’n perform­ance certificate gekry vir my haar bydrae tot die musiek in haar skool.

“Ná skool het ek ’n kort ses maande lange paralegal-kursus in die regte aan die SA Law School in Kaapstad voltooi.

“Ek het toe gaan werk, maar my hart het steeds by die musiek gelê.

“Vanaf 2014 het ek drie jaar musiek gestudeer by Camillo Lombard se skool, die Cape Music Institute, in Athlone, waar ek ook ’n toekenning vir Most Improved Student ontvang het.”

As Lady K Soul bekend lyk, is dit dalk omdat julle haar vroeër vanjaar in die Funderland Talent Search-kompetisie by GrandWest gesien het, waar sy tot die finale ronde deurgedring het.

Sy het ook al opgetree in die Kunstekaap, die Waterfront-amfiteater en by GrandWest. Sy was ook al backing vocalist vir Karin Kortjé en Zeldene McDonald.

Lady K Soul put haar inspirasie uit haar familie, wat ook haar grootste ondersteuners is.

Oor die strawwe kompetisie in die musiekbedryf hier in die Kaap noem Lady K Soul die volgende: “Ek sien nie ander artists as ’n bedreiging vir my loopbaan nie.

“Ons almal het ons eie uitsonderlike talente. Ek was al in situasies waar artists dink hulle is beter en dan probeer hulle jou afdruk. Ons moet eerder mekaar ophelp en ondersteun.”

Lady K Soul is tans betrokke by haar projek Chilling with a Poet. Dit is ’n open stage show waar enige iemand wat kan sing, dans, act of gedigte en stories vertel, welkom is om hul ding te kom doen.

Dit vind die laaste Donderdag van elke maand in die Alliance Fran­çaise-gebou in Mitchells Plain plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters