2 maande gelede
Firm favourite vat weer die verhoog
nagtegaal: Die Paarliet Loren Erasmus bied binnekort die show ‘Moonlight Masquerade’ aan. foto verskaf  ~ 

LOREN Erasmus is terug met ’n nuwe show getiteld “Moonlight Masquerade” en sy belowe dit gaan spesiaal wees.

Al lyk dit dalk of die loopbaan van dié sangeres van die Paarl nou eers vlam vat, is die mammie van twee reeds ’n bekende naam op die plaaslike musiektoneel.

Merkwaardige optredes op feeste soos Jazz On The Rocks in Tietiesbaai, MosJazz in Mosselbaai en die Oh Dam Musiekfees in Clanwilliam het haar as ’n groot guns­teling onder gehore gevestig.

Sy het al oral in die land ’n verhoog gedeel met groot name soos Emo Adams, Phil Fearon, die sax-sensasie Don Vino Prins, die saxofoonmeester Andrew Young, die jazz- en gospelster Ernie Smith en die voormalige Idols-wenner Karin Kortjé.

Loren bly steeds in die Paarl. Sy het daar aan die Frank Pietersen Music Centre en die La Musique School of Performing Arts studeer.

Sy is, benewens huisvrou en heeltydse werknemer van Pioneer Foods, direkteur van Chipo Productions. Sy lei haar eie band, Chipo, en is ’n sakevrou.

Deur haar maatskappy wil sy entrepreneurs die kans gee om hulle talente te showcase. Sy wil ook gemeenskappe in en om die Wes-Kaap ondersteun.

Haar warm, engelagtige stem en liefde vir mense maak haar ideaal vir alle soorte produksies. Sy word geloof vir haar briljante interpretasies van die Britse sangeres Adele se treffers. Sy is ewe gemaklik wanneer sy gewilde Afrikaanse liedjies, jazz standards, poptreffers of klassieke liedere sing.

Loren is ook ’n filantroop en dien as brand ambassador vir 2nd Harvest Food Bank, ’n NPO in die Paarl. Hulle ondersteun gemeenskappe, crèches, NGO’s en bestaande sopkombuise in die Wynland-distrik deur hulle van voedsame, gebalanseerde maaltye te voorsien.

“Moonlight Masquerade” vind op 9 November in die Paarlse stadsaal plaas. Dit begin 18:30.

Loren se gaste is die veelsydige Nur Abrahams en die PJ Twins.

Laasgenoemde het onlangs ’n groot comeback gemaak in die talentsoekprogram The Voice South Africa nadat hulle lank van die musiektoneel verdwyn het.

Graeme Richards, ’n aanbieder van die gewilde TV-ontbytprogram Expresso, is die MC. ’n Orkes met 12 lede sal die sangers begelei.

Loren sien uit daarna om dié talentvolle mense op stage te hê.

“Ek wil iets stylvols doen, maar ook iets waarby mense aanklank sal vind. Graeme is ’n afgeronde, ervare MC. Hy is stylvol en weet hoe om met ’n gehoor te werk.

“Ek is al lank ’n fan van Nur en die PJ Twins. Nur is net so talentvol. Hy kan enige iets met sy stem doen.

“Ek’t klassieke opleiding en die PJ Twins beïndruk my met die manier waarop hulle moeiteloos tussen opera en pop kan beweeg.

“So, ek is regtig opgewonde oor die konsert.”

  • Daar is nog galerykaartjies oor. Dit kos R150 elk. Bespreek jou plek by hello@chipoproductions.­co.za, Singer_Chipo op Instagram, Chipo Productions op Facebook of 073 627 1709.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters