7 maande gelede
Filmveteraan help newbies
Foto:  ~ 
FILMMAKER: Vaughan Goise is ’n bekroonde kenner van die vervaardigingsproses, regie en die skryf van draaiboeke.foto’s verskaf
Foto:
Foto:
Foto:

HY WIL graag nuwe filmmakers help ontwikkel, veral dié in die minderbevoorregte gebiede op die Kaapse Vlakte.

Die filmvervaardiger Vaughan Goise is die medestigter van Rainbow Circle Films en vervaardig dokumentêre programme, vollengte- en kortfilms, musiekvideo’s en advertensies.

Daar is dus nou hoop vir voor­nemende filmmakers wat in die rolprentbedryf sukses wil behaal.

Goise organiseer op die oomblik The Frontline Film Workshop.

Hul doel is om werksessies aan te bied oor die vervaardiging van rolprente.

Voltooide films sal dan later by die Frontline Film Festival vertoon word. Goise nooi filmskole, uitsaaiers en nog rolspelers in die rolprent­bedryf om die projek te ondersteun.

Goise het van 1993 tot 1995 aan die Community Video Education Trust se filmskool in Soutrivier studeer.

Hy vertel: “Daar het ek alles geleer oor die vervaardigings­proses, regie en die skryf van draaiboeke.

“In my laaste jaar was ek een van die studente wat die SAUK gekies het om oor die nuwe Grondwet ’n reeks documen­taries te maak. Ek het toe ’n dokumentêre film getiteld Fruits of Our Labour gemaak oor die regte van plaaswerkers. Dis in 1996 op SABC uitgesaai, en dít het my baie selfvertroue gegee.”

Tussen 2004 en 2010 het Goise met internasionale filmmakers saamgewerk om verskeie dokumentêre programme vir die SAUK te maak. Die reeks is Ikon South Africa genoem.

In 2008 het hy op die Hip Hop Odyssey International Film Festival in New York ’n prys gewen vir best feature documentary vir Mr. Devious – My Life. Die Noem My Skollie-skrywer, John W. Fredericks, het dit ge-direct.

Vir Biko’s Children, wat deur Vuyisa Yoko ge-direct is, het hy op die Africa in Motion Film Festival die prys gekry vir best short documentary.

“Ons maak films oor issues wat onse mense concern, veral mense van die Cape Flats. Dis films wat ons gemeenskappe nodig het en waaruit hulle kan leer,” sê Goise.

“In 2000 het ek en ander film­makers die Molweni-projek gestig. Dis ’n Township Film Festival, en ons het die hoëkoppe in die Suid-Afrikaanse filmindustrie genooi.

“Die regering het ons hier goed ondersteun. Ons het sponsors gekry vir die produksie van die films en kon equipment verskaf aan aspirant-filmmakers. Gemeenskappe van Elsiesrivier, Guguletu en Manenberg het hierby baat gevind.

“Dis ’n baie duur proses om ’n film te maak, en my raad aan jong filmmakers is om toegewyd te wees en alles in te sit. Daar is instellings wat verskeie filmprojekte befonds, maar hulle het hul vereistes.

“Gewoonlik wil hulle jou script sien en as hulle voel jou film is goed genoeg, is die kans goed dat hulle jou kan befonds.

“Die regering het ook ’n filmfonds. Die departement van kuns en kultuur, National Film and Video Foundation en die departement van handel en nywerheid befonds ook films.

”Maar die geld in Suid-Afrika is beperk. Soms kan hulle nie die volle budget provide wat jy nodig het nie. As films kwessies het oor byvoorbeeld gesondheid, dan kan jy na die gesondheids­departement gaan vir ondersteuning. Daar is ook internasionale befondsing (vir flieks uit Afrika).

“Aspirant-draaiboekskrywers kan ons ook nader met hul draaiboeke en ons kan hulle van raad voorsien.”

Alle belangstellendes kan Goise kontak by giosev@mweb.co.za of 072 989 7378.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters