4 maande gelede
Fiësta vir 'Queenie-hulle' is die kersie op die koek
Fiestas toekennings . Photo Melinda Stuurman,h?Iµ
Christo Davids en sy oom, Lloyd, aanvaar die Fiesta vir Beste Teks.  ~ Melinda Stuurman

CHRISTO Davids wou nog altyd saam met sy oom Lloyd aan ’n verhoogproduksie werk.

Sowat drie jaar gelede het hy besluit om nuwe lewe in een van sy oom se verhoogstukke te blaas. Só is Queenie-hulle gebore.

Lloyd (62), seun van die legendariese verhoog-, teater- en rolprentakteur Goliath Davids, het Queenie-hulle (toe nog Queenie en Kie) in die laat 1980's geskryf en toe weer in die 1990's aangepas.

Op Sondag 9 Februarie by die kykNET Fiëstas het Christo saam met een van sy rolmodelle op die verhoog gestaan om die toekenning vir Beste nuutgeskepte teks te ontvang.

Queenie-hulle het ook die toekenning verower vir die beste akteur – Brendon Daniels – en wen toe sommer ook die grote, dié vir die beste aanbieding.

Christo het die afgelope week aan Son vertel sy rede om juis Queenie-hulle planke toe te vat, is omdat die kwessie van haweloosheid hom baie na aan die hart lê.

Queenie-hulle gaan oor ’n groep bergies wat jare lank die trappe van die Good Hope Centre in Kaapstad hulle tuiste gemaak het, maar nou deur uitsetting in die gesig gestaar word.

"Persoonlik voel ek verantwoordelik teenoor mense wat op straat woon," sê Christo.

“Soos ’n predikant ’n kerk en ’n onderwyser ’n klaskamer het om ’n boodskap oor te dra, is daar in ons geval ’n teater.”

Christo sê die storie vind nie net by hom en sy oom as tekskrywers byval nie, maar dit is iets wat almal in ’n stadium sal moet acknowledge.

“Hoe weet ’n mens wat volgende vir jou wag? Niemand wat op straat woon, kies noodwendig om daar te bly nie. Ek dink nie swaarkry is iets wat enigeen vrywillig in sy lewe wil hê nie,” sê Christo.

“Veral soos in die geval met Brendon Daniels se karakter, Joey. Hy het van ’n scaffolding geval en dit was die einde daarvan.

“Maar dis ook die stryd wat hierdie mense het om uit te kom vanwaar hulle is, om ’n beter lewe te hê. Ek glo altyd daar is hoop. Ek sê altyd maak ’n man eerder dood as wat jy sy hoop van hom af wegneem.”

Tog wil Christo deur Queenie-hulle nie sê “kom ons red die wêreld nie”, maar dat daar bewusmaking moet wees.

Christo sê hy het deur die jare baie by sy oom geleer en dat dit vir hom "dié hoogtepunt" is om saam met hom te kon werk.

“Dis een van daai stories wat ek nie sonder my oom kon vertel nie. Daar is nie ’n Queenie-hulle sonder ’n Lloyd Davids nie.

“Die oorspronklike storie behoort nie aan my nie. Dit behoort aan my oom. Ek het gedink dit is tyd dat iemand soos hy gecelebrate word. Dis baie weinig dat bruin skrywers se werk eintlik tot sy volle gestalte kom.”

Christo sê hy sal beslis in die toekoms ander, minder bekende skrywers wil help om hulle stories uit te kry.

“Daar’s ’n hele paar stories wat ek reeds in my kop het, waar ek weet van goed wat ander ouens geskryf het in die verlede, waar as die teks die nodige werk en aandag kry, dit iets kan wees.”

Christo sê ook dit is bruin mense se verantwoordelik om hulle eie stories te vertel.

Lloyd, ’n afgetrede onnie van Worcester, is deesdae voltyds betrokke by die Goliath Davids Legacy Project op Heidelberg.

Die projek se doel is om die impak van armoede, misdaad en MIV/vigs in die Hessequa-streek te verminder. Die jaarlikse Goliath Davids-toneelfees vind ook weer vanjaar in die September-skoolvakansie plaas.

Lloyd sê hy self is baie opgewonde oor wat Queenie-hulle vermag het.

"Ek glo die produksie gaan nog vele hoogtes bereik voor sy stoom uitloop,” sê Lloyd.

Lloyd, wat nog nie self die produksie in sy huidige vorm gesien het nie, sê hy sal graag wil sien dat die produksie na die mense geneem word.

Hy sê soos in die geval van die karakters in Queenie-hulle het hulle, soos elke persoon, ook ideale en drome gehad.

"Maar dan val die dice verkeerd. Ons kan nie hul lewens verander nie, maar ons, as gemeenskappe, kan dit ’n bietjie draagliker vir hulle maak."

Lloyd sê die toekenning vir beste aanbieding wat Queenie-hulle ontvang het, was vir hom die kersie op die koek.

"Dit beteken dit is dus die overall wenner van die meer as 200 produksies oor die ses kunstefeeste in die land. Dit sê vir jou baie."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters