3 maande gelede
Felicity sing al vandat sy in gr. 2 is
TALENTVOL: Felicity Kiran werk tans aan ’n album.  ~ Wesley Martin

SY IS as kind baie gespot en geboelie oor haar kort hare en haar van.

Maar deur dit alles het die talentvolle sanger Felicity Kiran (37) vrede gevind in haar musiek en vandag toer sy die wêreld vol.

Sy is op ’n wynplaas buite Rawsonville as Felicity Charlene Buffel gebore.

Op die ouderdom van twee maande trek haar ouers na die Paarl, waar Felicity grootgeword en haar gevestig het as ’n erkende sangeres wat baie in aanvraag is.

“My ma, Sophie Buffel, is my grootste inspirasie,” vertel Felicity trots.

“Sy het destyds solo gesing in die kerk. My pa, Philip Buffel, het haar soms met sy kitaar begelei.

“Ek was nog klein toe ek my ma so sien sing het en dit het my liefde vir musiek geprikkel.

“Toe ek in gr. 2 in die skoolkoor begin sing, het my musiek-onnie by Ebenezer Primêr, mnr. Frank Pietersen, my talente raakgesien.

Gecheer

“Ek was so nege toe hy my gevra het om op ’n skoolbyeenkoms te sing. Ek was baie nervous. Ek het ’n Jimmy Swaggart song gesing en ek weet tot vandag toe nie hoe ek deur daardie song gekom het nie.

“Al wat ek weet, is dat die kinders vir my gecheer het toe ek klaar was. Van toe af het ek pal op byeenkomste opgetree en meer confident geraak.

“Ek is toe aangeraai om by die Paarl-Wellington Streekkoor aan te sluit. Dit het bestaan uit skoolkinders. Ek was 13 toe ek die oudisie geslaag en dié koor gejoin het.

“Ons het toe ’n maand lank in Nederland en Frankryk gaan toer.

“Dit het ’n punt bereik waar ek aan soveel kore behoort het dat ek my sport, onder meer hokkie, moes los omdat musiek vir my belangriker was.

Vir my ouers was dit ook belangrik dat ek moes aanhou goed doen in my skoolwerk.”

Op 15-jarige ouderdom sluit Felicity haar aan by die Intermezzo Jazz Band in die Paarl. Hulle tree toe in hotelle wyd en syd in die Kaap op.

In matriek wen Felicity ’n sangkompetisie en word deur Alistair Izobell, een van die beoordelaars, raakgesien.

Ná skool het sy twee jaar skoonheidsterapie geswot by Cape Col­lege, maar haar liefde vir musiek was sterker.

In 2004 gaan Felicity na Spanje met haar solo-produksie Queen of the Knights en tree daar in verskeie holiday resorts en hotelle op.

Daarna verskyn Felicity in vele teaterproduksies soos Diamonds and Dust en Let There Be Rock en werk saam met gesiene plaaslike producers soos Izobell, Mike McCullagh en Ivor Jones.

Ook toer sy met vele Barnyard Productions na lande soos Nederland, Frankryk en Duitsland.

Volkslied

Felicity vertel: “Een van die hoogtepunte in my lewe was toe ek gekies is om New Seeland se volkslied in 2011 op die opening van die Tri-Nations Rugby Champion­ship in Port Elizabeth te sing.”

Sy reik binnekort ’n R&B single, “Closer”, uit en werk aan ’n album.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters