6 maande gelede
Erkenning push Dean
trots: Dean Smith pose met sy kykNET Fiësta-toekenning.FOTO’S VERSKAF  ~ 

EN DIE kykNET Fiësta vir die beste manlike byspeler is Dean John Smith!

Die talentvolle akteur van Malmesbury het Donderdagaand by die negende kykNET Fiëstas in die Kunstekaap-teater weggestap met die gesogte toekenning vir sy rol in die briljante teaterstuk Klippe wat Val.

Dean vertel hy het al van ’n jong ouderdom aan sy talent begin slyp.

“Ek het my laerskoolloopbaan by Liebenberg Primêr voltooi en is daarna na Schoonspruit Sekondêr, waar ek drama as skoolvak gevat het. Dit was ’n fokusskool vir die kunste.

“Daarna het ek gaan studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het drama by die US geswot en toe later my honneurs daarin gedoen.”

Die akteur van die sepie Suidooster is baie trots op dié prestasie.

“Ek is baie dankbaar dat waardering gewys is vir die werk wat ek ingesit het, want ek het baie ingesit. ’n Mens werk hard en ek waardeer dit as ’n mens waardering vir jou werk kry.

“Dis altyd ’n lekker gevoel om ietsie te wen. Maar dit push jou ook om selfs nog harder te werk.”

Dis geen verrassing dat die 25-jarige ster die toekenning gewen het nie, want in die teaterstuk Klippe wat Val vertolk hy die rolle van drie verskillende karakters.

“Ek speel die karakter van die 30-jarige Abrie, wat teruggaan na sy tuisdorp vir verskeie redes; ek vertolk die rol van Abrie se ma, ’n 50-jarige bruin huishulp en dan ook die rol van Abrie se grootword-vriend se ma, ’n 50-jarige blanke vrou.”

Dean vertel die stuk is vir hom so spesiaal oor hy so van een storielyn na die volgende kan spring.

“Vir ’n tydjie kan ek die lewens van verskillende karakters oorneem en dan weer uitspring en ’n ander karakter speel. Dis ’n wonderlike script wat ons gekry het van Phillip Rademeyer – om soveel te kan bied vir ’n karakter en steeds binne die raamwerk te kan bly.”

Die les wat die talentvolle teater­maker uit die toneelstuk vat, is dat die waarheid jou altyd sal inhaal.

“Abrie keer ná 25 jaar terug na die plaas en dan moet hy deal met goed wat in die verlede gebeur het wat nie noodwendig uitgesorteer is nie.

“’n Mens leer dat dit jou niks baat om dinge heeltyd uit te stel nie. Jy moet met dit op die daad deal en leer daaruit. Moenie haastig wees om by ’n bestemming uit te kom nie, want daar leer jy niks; dis jou journey wat vir jou lesse leer.

“Dis ’n siening wat ek in my eie lewe toepas.”

As jy Dean op rooi hakke wil sien, gaan kyk Klippe wat Val by die Woordfees in Stellenbosch. Dis van 7-10 Maart by Hoërskool Cloetesville op die planke. Kaartjies kos R110-R145 en by die deur sal jy R165 betaal. Geen onder 16’s word toegelaat nie.

Dean is in nóg twee anders shows, Die Gangsters en Vlug. Die akteur verklap hy en sy Suidooster-medester Gantane Kusch werk tans aan ’n komediestuk wat by die KKNK sal debuteer.

Hierdie klong van Malmesbury is besig met groot dinge!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters