2 maande gelede
Entertainer lag hom 'n poggeltjie op stage
Hy’s ’n hit: G3d8gte se musiek maak groot waves op sosiale media.Foto’s:salmonsmith  ~ 

HY IS op skool geboelie en die onderwysers het hom afgekraak en gesê hy is tone-deaf. En hy sal nooit kan lees, skryf of sing nie.

Maar vandag kan die rapper “G3d8te” (uitgespreek as Gedagte) spog met ’n klomp hits op sy kerfstok.

Dit is onder meer “Meisie, Skud Jou Poen-poen”, “Die Hele Nag” en “Ek Voel My Voete Jik.”

G3d8te – wat nie sy regte naam genoem wil hê nie – is gebore in die Oos-Kaapse dorpie Joubertina en het daar op ’n appelplaas grootgeword.

Maar sy grootwordjare was allesbehalwe maanskyn en rose.

“Ek is met ’n boggelrug gebore en is ook met disleksie gediagnoseer, wat dit moeilik vir my gemaak het om te lees.

“Weens my boggelrug is ek lelike skeldname genoem. Skeldname soos die Hunchback of Notre Dame of Ninja Turtle.

“Maar my pa het destyds vir my gesê: ‘Hulle gaan vir jou lag oor jou gebrek, maar jy moet dit nie ernstig opvat nie. Laat hulle eerder lag op jóú terms. Wees jou favourite ninja turtle.’ Toe word ek die class clown.

“Ek is gevra om in elke konsert op te tree. Dít was toe my manier om met die boelies te deal.

“Ja, ek kon aan konserte deelneem, maar ek mag nie aan die skoolkoor deelgeneem het nie omdat ek volgens die onderwysers nie kon sing nie. Maar ek het altyd vir hulle gesê ek gaan eendag sing en nog op die TV wees.”

G3d8te noem dat Antjie Grootboom, sy ouma, hom van poetry geleer het. Sy het altyd gesê hy sing nie mooi nie, maar hy is funny en sing lekker.

Dít is toe dat hy begin rap en sy unieke genre genaamd “Gekgaap-rap” begin het.

“Dis comedy en ’n funny tipe rap,” verduidelik G3d8te dié genre.

“Die backing-musiek wat ek maak, word ‘Blikkies House­’ genoem. Dis ’n mix­ture van kwaito en ghoema.

“Ek het my brand, G3d8te Musiek, in 2006 begin.

“Ek het ‘Meisie, Skud Jou Poen-poen’ in 2010 gemaak vir my meisie. Dit is live record in ’n tavern. Die song het sommer net so in my gedagte opgekom.

“Die song het viral gegaan op Facebook en ander social netwerke. En Kouga FM het die song begin speel.”

G3d8te sê hy is nie ’n sanger nie, maar ’n MC, comedian­ en entertainer.

Hy was al selfs seremoniemeester op Emo Adams se show Emo and Friends. Dit was die hoogtepunt van sy loopbaan.

Hy doen deesdae motiveringstoesprake by skole en moedig jong kinders aan om sukses na te streef.

“Ek wil nie bekend wees of op straat herken word nie. Maar ek wil eerder hê die mense moet my musiek ken.”

Sy jongste CD, Gee die Hond Sy Kos, is Vrydag in Atlantis bekend gestel. Belangstellendes kan ’n “Mr Voete Jik”-T-shirt koop en dan die CD verniet bykry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters