3 maande gelede
‘Ek vertel my storie van hoop met musiek’
BLY GLO: Die sanger Eon le Roux is dankbaar vir ál sy kanse.  ~ 

‘EK HET altyd gevoel ek is nie goed genoeg nie.”

Maar nou kyk Eon le Roux, die sanger en topvyf-finalis van The Voice South Africa, heeltemal anders na die lewe.

Hy vertel uit die Winderige Stad: “My ouers is van Kaapstad en daarna het ons na Port Elizabeth verhuis. My grootwordjare in die Baai was ’n groot voorreg.

“Ek is dankbaar vir die beginsels wat my ouers, Ernest en Zita le Roux, vir ons as familie geleer het.

“My pa is ’n pastoor en my ma ’n verpleegster. En ek onthou hoe ons altyd gereis het met die bediening wanneer my pa gaan preek het.”

In die Baai het Le Roux as ’n Bitcoin-entrepreneur gewerk en nou leef hy sy lewensdroom uit.

“Ek het altyd gedink wat die mense sal sê. Maar my vriend Roswyn Louw het my aangemoedig om by The Voice vir ’n oudisie te gaan.

Rapper

“Ek was baie senuweeagtig, maar ek het die moed bymekaargesit en gegaan, want ek het gedink ek het niks om te verloor nie.

“Ek het nooit kon dink ek sal so ver in die kompetisie kom nie.”

In The Voice het die rapper en beoordelaar Riky Rick eerste vir Le Roux omgedraai en daarna was die Baaienaar in sy span.

The Voice was baie tough, want dié jaar was daar soveel talentvolle sangers wat deelgeneem het, maar dit het my ’n sterker persoon gemaak.

“Vandag kan ek met volle vertroue op die verhoog staan, want The Voice het my kom leer alles is moontlik as jy dit doen met oorgawe en met alles wat binne jou is.

“Ek het so baie van die vermaaklikheidsbedryf agter die skerms geleer.

“Daar was tye in die kompetisie dat ek moeg geword het, maar die aansporing van my ma op die phone het my krag gegee om aan te hou.

“As jy doelgerig is en hard werk, sal jy die vrugte daarvan pluk.

“Alles is moontlik in die lewe. Met geloof in God kan jy jou drome laat waar word.”

Le Roux se diepste begeerte is om ’n album op te neem, maar vir eers gaan hy werk aan singles.

“Dis baie geld om ’n album op te neem, maar ek vertrou die deure sal op die regte tyd oopgaan,” lag hy.

“Ek is baie dankbaar oor die nuwe deure wat nou vir my oopgaan en ek wil dit met albei hande aangryp.

“Dit bring soveel vreugde om my storie van hoop deur my musiek te vertel. My lewe het so verander.

“Ek kry nou baie geleenthede vir optredes en daarvoor is ek dankbaar.

“Toe ek terugkom na die Baai, was dit amazing om te sien hoeveel mense vir my omgee en my ondersteun. Dit laat my hart warm klop.

“Ek was so oorweldig, ek het nie geweet die ondersteuning sal so groot wees nie.

“Ek wil die jeug aanmoedig: Leef met ’n doel en gee jou alles met hart en siel, dan sal jou drome waar word.

“Gryp elke kans aan wat langs jou pad kom en gee altyd jou beste.

“Vandag jubel my hart, want die beste lê nog voor.”

Le Roux vertel wat sy anker is. “My geloof is vir my baie belangrik, want dit hou my grounded.

“Ons almal is hier op aarde met ’n doel en is geseën met ’n spesifieke talent. Leef dit uit en jy sal sukses behaal in die lewe.”

Le Roux is so dankbaar vir ál die ondersteuning van sy familielede en vriende, veral toe hy by The Voice opgetree het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters