7 maande gelede
Drummer’s boy doen nou groot dinge
wortels: Die jong Namakwalander rap in sy moedertaal, Nam-Afrikaans.  ~ 

DIÉ volbloed-“Nama-tjent” van Namakwaland staan vir niks en niemand terug nie.

Hy is jonk en ambisieus en maak vinnig opgang in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Die 24-jarige rapper Vito Heyn, beter bekend as V.I.T.O, is versot op Afrikaans en rap in sy moedertaal: Nam-Afrikaans (Namakwalandse Afrikaans). Hy voel dié unieke dialek kry nie genoeg erkenning nie; daarom probeer hy om dit in sy musiek te laat voortleef.

V.I.T.O. is in Nababeep gebore en bly tans in O’Kiep. Hy kom uit ’n baie musikale familie. Sy pa is The Rockets se drummer, Bruce Newman. Die rapper is dus van dag 1 af aan musiek blootgestel.

“My passie vir musiek het egter op 14-jarige ouderdom posgevat toe ek Amerikaanse rappers soos Eminem begin naboots het,” vertel V.I.T.O.

“Ek het toe later die urge gekry om my eie songs te skryf.

“My pa se broer, Sebastiaan Newman, het my voorgestel aan die Suid-Afrikaanse rap scene. Ek het toe in sy kamer my eerste song, ‘Eerste Oomblik’, ge­record.

“Ek het toe gevoel om eerder in my moedertaal te rap om sodoende ons stories te vertel.

“Ek noem my styl van musiek ‘Nam-Afrikaans’.”

In 2016 het V.I.T.O. sy eerste CD bekend gestel. Dit heet Die Waarhate. Hy verduidelik die titel het ’n dubbele betekenis. Op die CD sing hy oor positiewe en negatiewe dinge wat hy en vele mense daar buite al deur­gemaak het.

“Op daardie einste CD is ’n song genaamd ‘Regverdighate’. Dit gaan oor mense wat ’n verkeerde persepsie van Namakwaland het.

“Daar is mense wat nog nooit in Namakwaland was nie. Hulle neem aan hier is niks karre of teerpaaie nie. Hulle glo hier is net rooi grond en ons ry net op donkiekarre. Dit is ’n verkeerde persepsie. Met dié song probeer ek net daardie saak regstel.

“Ek gebruik nooit vuil taal in my musiek nie. Ek is besig met my nuutste CD, Ek Is Trots. Daar gaan omtrent 18 songs op wees.

“Dit gaan meer soos ’n humor­album wees, met verskillende genres. Daar gaan ’n komieklike reggae song, komieklike love song, hip-hop songs, ensovoorts, op wees. Daar gaan vir van die songs musiekvideo’s gemaak word. Dit sal saam met die CD uitgereik word.”

V.I.T.O. is al ’n rukkie aan die gang. In 2015 het hy saamgewerk met Steve Hofmeyr, Anton Goosen, HemelBesem en Rina Hugo aan Coenie de Villiers se produksie Vat die Rap. Hy het ook al met Dawid Kramer kragte saamgesnoer vir ’n nuwer weergawe van David se treffer “Stoksiel­alleen”.

Dié song het die tweede plek gehaal op die top-10 van die musiek­kanaal MK.

En op verlede jaar se KKNK het hy en Dawid die mense gewow met hulle musical, Amper Famous­.

Verlede jaar was V.I.T.O. boonop saam met onder andere DJ Ready D, Camillo Lombard, dr. Willa Boezak en Elton Landrew betrokke by ’n produksie vir die Suidoosterfees. En op vanjaar se Woordfees het hy ook beïndruk.

Nou toe. Kry hom op Facebook en Instagram.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters