7 maande gelede
Don Vino bring vir ons nóg ‘saxyvibes’
Talentvol: Don Vino Prins se #Saxyvibes2 is gou op die planke. FOTO’S VERSKAF  ~ 

DON Vino Prins se #Saxy­vibes2 is terug met ’n bang!

Só vertel die talentvolle regisseur en musikant Don Vino, wat geen bekendstelling in Kaapstad nodig het nie.

Die boorling van Elsiesrivier sê dis vir hom ’n groot eer om in Vryheidsmaand hulde te bring aan ons vryheidstryders soos Nelson Mandela, Hugh Masekela en Robbie Jansen.

Hy sê Jansen het hom geïnspireer om die saxofoon te leer speel.

“Ek kan nog onthou ek was deel van ’n Kers­produksie en dít is waar alles begin het.

“Voordat ek hom ge-meet het, het ek oom Robbie gesien optree saam met Abdullah Ibrahim en ek het altyd die begeerte gehad om eendag saam met hom op te tree.

“Ek het toe na ’n jam-sessie gegaan by die destydse G-Spot daar in Epping en daar het ek oom Robbie op die verhoog gesien.”

Don Vino vertel dis tóé dat hy net daar op die verhoog spring en saam met die legende speel.

“Daar was onmiddellik ’n connection,” vertel hy trots.

Hy sê later het hulle gereeld saam opgetree en dit was ook die begin van ’n goeie vriendskap.

“Ek glo sterk aan goeie menseverhoudings en werksetiek in die musiekbedryf.

“As jy fame in die vermaaklikheidsbedryf soek, gaan jy dit nooit maak nie. Maar as jy mense met respek behandel, sal dit met jou goed gaan.”

Don Vino wei uit dis belangrik om jouself daar buite te kry en gereeld op te tree, want so bou jy aan jou brand.

Hy voeg by jy moenie wag vir mense om jou te bel vir besprekings nie, maar jy moet jou eie werk create.

Don Vino is baie gelukkig getroud met die pragtige Ronel, wat ook sy besprekings hanteer. Hulle is geseën met drie kosbare kinders – Mia (3) Aiden (8) en Kaylee (12).

“Ek het kom leer in swaar tye is my familie my bron van krag en inspirasie.”

Don Vino sê hy wou nog altyd met sy musikantvriend Tye Platinum die verhoog deel. En hierdie droom sal nou met #Saxy­vibes2 bewaarheid word.

Die ander gaskunstenaar wat ook gaan optree, is die violis Rayelle Goodman. Sy bring ’n “spesiale flavour” na die show.

“Ek kan julle nou al belowe hierdie show gaan nog ’n lang tyd op almal se lippe wees, so moenie die show misloop nie.”

Don Vino sê hy is baie opgewonde daaroor om aan sy eerste album te werk wat in Mei, sy verjaardagmaand, uitgereik word.

#Saxyvibes2 word aangebied vanaf 18 tot 28 April by die Roxy Revue Bar in GrandWest, Goodwood, en die kaartjies kos R150 per persoon.

Lesers kan Ronel gerus kontak by bookings@­donvino.co.za of bel Bridgette by 083 597 1678.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters