6 maande gelede
DJ glo sy droom kan talle ontroer
op ’n missie: DJ Ngamla stap al ’n lang pad sedert sy dae in Amerika.  ~ 

GQOM is die musiekgenre wat omtrent enige jong laitie op die Kaapse Vlakte en die platteland deesdae opgewonde maak.

En een van die gqom deejays wat so gewild is, is DJ Ngamla.

Maar wie is dié DJ oor wie talle laities so gaande is?

DJ Ngamla se regte naam is Dylan Ward (21) en hy is gebore in die Amerikaanse deelstaat Washington.

Toe hy ses maande oud was, het sy ouers na Suid-Afrika geïmmigreer en hulle in die Bolandse dorpie Robertson gevestig.

Daar het Dylan grootgeword en skoolgegaan.

Op die vraag, hoekom hy gqom as musiekgenre gekies het, verduidelik hy: “Ek het eers begin met trance dance music, met ander woorde rave music, waaroor ek baie mal was.

“Ek is toe een aand saam met twee van my bruin pelle na ’n swart woonbuurt daar in Robertson. Ek was toe 15 jaar oud.

“My pelle het my ’n USB stick gegee om house-musiek daar in ’n club te speel. Dit was toe nice om te sien hoe excited die mense was oor dié wit man so lekker musiek kan speel.

“Dit het my laat besluit dít is wat ek wil doen.

“Ek het toe nog nie alles van deejay geken nie. Ek het begin leer op ’n controller en toe op die decks.

“Vandaar is ek Kaap toe en onder die vaardige hande van DJ Ron X het ek alles geleer van deejay en die musiekbedryf in sy Underground Pro DJ Academy.”

Grotes

Vandag bly DJ Ngamla in Bloubergstrand en doen gqom en African house music. Hy het al vele albums en singles release.

Hy het ook al saam met grotes soos DJ Tira, DJ Maphorisa, Dr Malinga en Busiswa gewerk.

DJ Ngamla verduidelik: “Gqom het eintlik sy ontstaan in 2012 in Durban gehad. Dit is in die taxi’s gespeel.

“En van daar af is dit nagklubs toe gevat. Dit het toe so gegroei dat dit deur Distruction Boyz commer­cial geraak het. Hulle het dit nasionaal en radiovriendelik gemaak.

“Daar is beslis ’n toekoms vir gqom in Suid-Afrika. Dit is ’n genre wat daagliks evolve. Elke keer kry jy producers wat met ’n nuwe idee vorendag kom.”

Wat baie mense nie weet nie, is dat DJ Ngamla tans ’n kursus in traditional heal­ing doen.

As deel van sy kursus het hy al ’n paar maande in Guguletu op die vloer van ’n hokkie geslaap. En hy praat so ’n bietjie IsiXhosa en IsiZulu.

Hy en DJ Joejo en Sdumo Viwe het ’n song genaamd “Ngenye Imini” uit.

’n EP, “Answer your Calling”, is ook op die horison.

“Ek voel dat jy deur musiek die wêreld kan verander. Ek wil ’n positiewe invloed op mense hê.

“Ek wil mense ’n ander perspektief van Suid-Afrika gee as wat hulle ken.

“Ek wil die mense se mindset deur my musiek change.

“My boodskap aan die jong laities is: Werk hard, bid hard en speel hard, dan sal jy suksesvol wees.”

  • DJ Ngamla se musiek kan gevind word op iTunes, Spotify, en Google Play.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters