Verlede maand
DJ Ermy werk aan sy groot kans in lewe
RAPPER: Ermon Markus maak naam.FOTO’S VERSKAF  ~ 

VIR baie mense sal die naam Ermon Markus onbekend klink. Maar dié jong, talentvolle rapper en deejay het al internasionaal aandag getrek en gaan moontlik binnekort ’n kontrak sluit met ’n bekende Amerikaanse record producer.

Markus (21), beter bekend as “DJ Ermy”, is van Riebeek-Wes in die Swartland. Hy het op ’n jong ouderdom sy liefde vir musiek ontwikkel.

Op nege jaar is sy talent in die skryf van musiek ontdek.

“Ek het destyds met my ouer broer Lennit Markus na sy rapgroep G-Boys se musiek-studio in een van die groeplede se agterplaas gegaan. Ek het ’n bietjie rondgekyk na hoe hulle dinge daar doen.

“Later het ek op hulle recording equipment myself geleer in die skryf en recording van musiek. Ek het die programme REAPER en FL Studio gebruik.

“Dis toe ek vir hulle gehelp het om hulle debuut song, ‘Sonskyn’, te record. Hulle was baie beïndruk met die finale produk, aangesien die kwaliteit beter was as hulle vorige pogings.

“Ek was toe nog nie so bevoorreg om my eie recording equipment te hê nie.”

Aanvaar

Ná “Sonskyn” het DJ Ermy nog ’n paar songs vir hulle opgeneem.

Nadat G-Boys in 2012 opgebreek het omdat die lede ander werkverpligtinge gehad het, het baie nagklubeienaars in die omliggende dorpe vir hom werk as platejoggie in hulle clubs aangebied.

Maar omdat hy toe nog minderjarig was, kon hy dit nie aanvaar nie.

In 2013 het DJ Ermy sy eie songs begin skryf en opneem. Hy het in sy tuisdorp baie ondersteuning gekry.

“Toe ek 18 word, het ek begin om in die nagklubs as ’n platejoggie te werk. Ek het toe geld bymekaargemaak en my eie studio equipment gekoop.

“My eerste Afrikaanse song, ‘Bondkop’, was ’n treffer en oral waar ek gegaan het, het mense dit gespeel.

“In 2016 het ek en my niggie Izné Markus toe die liedjie ‘Broken Community’ vervaardig.

“Dit gaan oor ons gemeenskappe hier in Riebeek-Wes en omgewing wat so agteruitgaan oor dwelms en bendebedrywighede.

“Die song het op die Paarlse radiostasie Radio KC 107.7 gespeel. Die musiekvideo is ook op YouTube.

“Ek het nou my tweede hit, ‘DJ Ermy in Love’, vrygestel wat op die Noord-Kaapse gemeenskapsradiostasie NFM 98.1 gespeel word.”

Volgens DJ Ermy het die Amerikaanse record producer Kevin Erondu, beter bekend as K.E. On The Track, hom in November laas jaar gekontak.

Dit het gebeur nadat dié producer sy Instagram-profiel en musiekvideo “How Many Days” gesien het.

Intussen wag DJ Ermy in spanning vir die groot oomblik om saam met dié producer te werk.

K.E. on the Track het al gewerk met groot name in die musiekbedryf soos Eminem, French Montana en Kirko Bangz.

  • Bel DJ Ermy by 061 256 4620 vir meer inligting.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters