4 maande gelede
Dié muso se hart is in die bedryf
son
AANHOUER: Alfonzo Blanckenberg werk aan sy eerste oorspronklike CD.  ~ Salmon Smith

‘COURAGE, Faith and Victory” is die leuse van die sanger Alfonzo Blancken­berg.

En dít is wat dié versatile sanger, wat al sy stempel internasionaal afgedruk het, dryf om van sy musiekloopbaan ’n sukses te maak.

Alfonzo (42) het onlangs teruggekeer van Feurteventura en Lanzarote, wat twee van die Kanariese Eilande is.

Daar het hy sy talente vir nege maande ten toon gestel in Motown Mania-konserte – “a tribute to the Motown greats”.

Alfonzo, wat gebore en getoë is in die pragtige Bolandse dorp Paarl, het al van kleins af belang gestel daarin om te sing.

Hy vertel: “My familie aan my ma se kant is baie musikaal aangelê.

“My oorle oupa Izak Blanckenberg was destyds ’n banjo-speler in die groep Royal Stars.

“Ek het in die AME-kerkkoor en ons familiekoor gesing. Die kerk het destyds events gehad waarin elke familie iets moes sing.

“In gr. 12 by Charleston Hill Sekondêr is my sangtalent raakgesien en ek is gevra om die skoolkoor te join. Ná matriek in 1995 het ek my by die plaaslike vocal group Volume 4 aangesluit.

“In 1998 het ons saam met The Rockets getoer en in dorpe soos Mamre, Kleinmond, Mosselbaai en Riversdal opgetree.”

In 2001 stig Alfonzo die vyf-man vocal group N-Trigue en in 2003 wen hulle die Oostenberg Lodge-sangkompetisie in Kuilsrivier.

In 2008 raai die bekende Bolandse sanger Sydwell Beziek hom aan om ’n oudisie in Spanje te gaan aflê.

Hy slaag die oudisie toe en sluit hom aan by die groep Harlem Dreams­.

Sy eerste produksie was Motown Hitsville Tributes­ in die Spaanse stede Barcelona, Valencia, Sevilla en Roses.

Daarna was daar ’n Boogie Nights Tribute en Harlem Dreams Tribute, ’n tribute aan die Motown-klanke van die 1960’s tot ’80’s, soos The Tempta­tions, Tina Turner, The Jackson 5 en Gloria Gaynor.

Alfonzo vertel: “In 2015 begin ek as ’n solo artist en stig my eie band, Soulsound, met ’n konsep van old school reggae en jazz. Ons het stages gedeel met groot name soos Garth Taylor, Loukmaan Adams en The Rockets.

“Ons het ook op groot feeste perform soos die jaarlikse Mandela Walk in die Paarl, Jazz on the River Banks in die Paarl en die Karoofees in Laingsburg.

Alfonzo wys uit die musiekbedryf is nie maklik nie.

“Dis harde werk,” sê hy. “As jy nie ambisie het nie, los maar.

Bedank

“Ek werk aan ons eerste oorspronklike CD. Ek hoop om dit teen die festive season uit te reik.

“Ek bedank graag my vrou, Rochelle, vir haar inspirasie.”

Alfonzo en sy band is op Facebook (Alfonzo Soulsound Live Band) en op Instagram (Alfonzo Soulsound).

Die band se eerste show is The Soulsound Gala Event Vrydag in die Annunciation Saal (Bessieboordsaal) in Van der Stelstraat in die Paarl.

Dit begin 19:00 en hou aan tot laat. Bring gerus julle eie platters en XYZ saam.

Gasmusikante is Seridia-Lee, die rapgroep R.K.P en Fabian Meyer.

Toegang is R120. Bel Alfonzo by 061 358 2421 of 061 839 8877.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters