24 dae gelede
Dié Butler skud steeds haar biscuit
Vol vuur: Sandra Butler-Miller (69) stel al van kleins af haar talent ten toon.  ~ Salmon Smith

DAAR is ’n spreekwoord wat lui “oud maar nog nie koud”.

Die sangeres Sandra Butler-Miller (69) sit nog menige jong artist ore aan met haar stage performances. Sy is vurig en haar energie ken geen perke nie.

Sandra kom uit ’n musikale familie. Sy is die vierde oudste kind in ’n gesin van 17 kinders, van wie die internasionaal bekende sanger Jonathan Butler die jongste is.

Sy is in Athlone gebore, het in Belgravia grootgeword en het van kleins af haar talente ten toon gestel.

“My hele familie kan sing. Van die oudste tot die jongste.

“My oudste suster, Victoria Town, was ons almal se inspirasie. Victoria se sangtalent is hier in die 1950’s ontdek toe sy een aand die song ‘Kiss of Fire’ van Georgia Gibbs op ’n stage gesing het. En ek het niemand al daardie song so hoor sing soos Victoria nie.

“Daarna het sy al ons kinders begin mentor. Ek was so 11 toe sy my een aand saamvat na Elsies­rivier om op een van haar shows te gaan sing.

“Ek het altyd gehoor mense gooi jou met bottels van die stage af as jy nie kan sing nie. Maar ek het daardie aand my ding gedoen en die aand was ’n reuse-sukses.”

Klopse-groep

Ná skool, in die sestigerjare, het Sandra haar by die band Shindig 5 saam met Richard Jon Smith aangesluit. Sy’t toe ook as ’n solosangeres gefreelance saam met ander bands soos Afro Express met Walter Brown, en The Invaders.

Sy het haar later saam met Jonathan Butler aangesluit by die klopse-groep die Golden City Dixies en het elke jaar getoer en opgetree op stages landwyd en in Namibië.

“Ek het die Zoeloe scene gedoen en die bekende ‘Click Song’ gesing.

“Ná elke toer het ek toe weer aangegaan met my solo career.”

Ses jaar gelede het Sandra saam met haar seun Michael-John Sias die klopse-groep “The Butler Youth Development” gestig.

“Dié klopse-groep is ’n non-profit organisation en ons fokus op jeugontwikkeling.

“Omdat ons familie in die musiekbedryf is, het ons besluit om terug te ploeg in die gemeenskap.

“Ons werk in minderbevoorregte gemeenskappe in Elsiesrivier.

“Ons lede bestaan meestal uit kinders van so 5 en 6 jaar oud en ons practice dwars deur die jaar en neem deel aan die karnaval oor die feestyd.”

Popmusiek

Sandra behoort ook aan die familie se jazz band, die Butler Connection Band, en sing nog so nou en dan solo.

Sy sing meestal jazz- en popmusiek. Haar stem kan ook gehoor word op sommige van Richard Jon Smith en Jonathan Butler se destydse songs.

Oor haar energieke optrede vertel Sandra: “My energie is natural. Ek glo daaraan om my lyf te skud. As ek op die stage is, wil ek die audience please.

“Dit baat nie jy gaan stilstaan nie, want dan gaan die mense nie die show geniet nie.”

Ja, oud maar noggie koud!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters