14 dae gelede
David jubel nou
Foto:  ~ 

DIÉ seun van Macassar styg hoog uit en vergeet nie waar hy vandaan kom nie.

Dié gospelsanger en liedjieskrywer, David Jantjies, sing al van 11-jarige ouderdom af.

Jantjies kom uit ’n musiekfamilie waar almal sing en musiek maak.

Hy is bekend by gospelkonserte waar hy die saak aan die brand sing met sy vuurwarm koortjies en aansteeklike glimlag.

“Ek kan onthou dit het alles begin toe ons die groep Chosen Family begin het.”

Jantjies vertel twee jaar terug het sy vriend Ashwin Philander hom voorgestel aan die bekende Jonathan Rubain om as agtergrondsanger op te tree.

“Ons het net daar by die oefening­kamer geconnect en dit was die begin van groot dinge.

“Spencer Jon Kennedy, wat ook ’n baie goeie vriend is, is die musikale direkteur van die groep Jesus Collective en ek toer deur die land saam met hulle om die evangelie van hoop na ons gemeenskappe te bring.

“God is besig om ’n nuwe generasie op te rig met ’n nuwe klank en as ons in eenheid beweeg, sal die Here ons land genees.”

Sy eerste single, “Ek Sal Jubel”, word binnekort uitgereik.

“Die Here sal op die regte tyd die regte deure oopmaak.

“Bly jy net getrou en Sy goedheid en guns sal jou volg.

“In moeilike tye hou ek vas aan die woord van die Here en lof en aanbidding is vir my ’n veilige vesting.”

Jantjies is dankbaar vir sy ouers, past. David en Audrey Jantjies, Chosen Family, Jonathan Rubain en Spencer Kennedy vir hulle getroue ondersteuning.

Kontak Jantjies by 062 819 8640.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters