6 maande gelede
Clayton is gereed om kroon te dra
baie DROOM GROOT: Clayton Peters van Heideveld is ’n Mnr. SA 2019- finalis.FOTO VERSKAF  ~ 

DIT maak nie saak waar jy vandaan kom nie.

Só glo Clayton Peters, wat in Heideveld op die Kaapse Vlakte grootgeword het.

Dié Mnr. Suid-Afrika 2019-finalis glo jy moet nooit toelaat dat jou omstandighede jou in die lewe terughou nie, want jy is gebore met ’n spesifieke doel op die aarde.

Clayton vertel hy was nie altyd gewild nie en sy kinderjare was maar moeilik.

Gemotiveer

“Op skool was ek ’n baie stil en teruggetrokke kind en van die leerders het my geboelie.”

Die 34-jarige wei uit dit was ook nie maklik om deur ’n enkelouer grootgemaak te word nie.

“Ons het deurgedruk en dit het my gemotiveer om eendag beter te doen.

“Op hoërskool het ek vir myself opgestaan en nie verder toegelaat dat ek geboelie word nie.”

Die finalis het ’n ruk in die bankwese gewerk en later ’n kursus in sakebestuur voltooi, maar hy vertel daar was maar altyd ’n leemte vir iets anders.

JP Robberts, CEO van Mnr. Suid-Afrika, en Qiniso Shabalala, laas jaar se wenner, het Clayton aangemoedig om in te skryf.

Hy deel opgewonde: “Ek kan nie glo ek is nou een van die finaliste nie.

“Ons was betrokke by verskillende projekte by skole in Manenberg en die Paarl en dit het my lewe baie diep geraak, want die nood is so groot in ons gemeenskappe.”

Daar was groot oproer in die sosiale media toe die 20 finaliste vir Mnr. SA in April aangekondig is. Die finaliste is op Twitter aangevat omdat hulle glo meer soos ’n police line-up as tipiese model-mans gelyk het.

Maar Clayton vertel die nasionale kompetisie gaan minder oor ’n gespierde lyf om af te show en meer daaroor om ’n wesenlike verskil in die gemeenskap te maak.

“Ek het nog altyd geweet dit is wat ek wil doen.

“Ek wil gesellighede in die vermaaklikheidsbedryf reël, want dit is my passie.

“Omdat ek van Heideveld kom, sal ek baie graag betrokke wil raak by minderbevoorregte kinders in ons gemeenskap en hulle probeer bemagtig.”

Clayton vertel hy is passievol oor die gemeenskap.

“My motto in die lewe is leef voluit, ook vir ander, en laat ’n erfenis agter,” sluit hy af.

Julle kan vir Clayton stem deur ’n SMS met MRSA9 na 40439 te stuur.

Ons splinternuwe Mnr. Suid-Afrika word op 8 Junie gekroon op ’n spoggerige geleentheid in Kampsbaai se The Bay Hotel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters